Carina Francke 

“Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” Johannes 4:15, 1983-vertaling
 
Jesus verlaat Judea en reis via Samaria na Galilea. Samaria was bekend as 'n “vyandige” gebied. Moeg van die reis, rus Hy by die fontein in die dorp Sigar. 'n Samaritaanse vrou kom alleen by die put aan om water te skep. In sy alwetende Godheid weet Jesus reeds dat sy van twyfelagtige reputasie is. 'n Vrou met wie min mense iets te doen wil hê. 'n Rantmens. Jesus kyk egter anders na haar. Soos ook met ons, kyk Hy verby alle vooroordeel, gebreke, beperkings en reputasie, en sien die mens raak. Voor Jesus is sy, jý, ek en alle ander mense ewe belangrik!
 
Hy vra die vrou vir water om te drink. Waarop sy fronsend reageer – Jode en Samaritane gaan nie met mekaar om nie, kwansuis omdat die Samaritane die Jode verontreinig. En nou kom vra Hy haar vir water! Jesus bly komkommer koel. Sy dink Hy is 'n Jood, maar eintlik is Hy baie meer. Hy is God se gawe aan die mensdom. Hy gee lewende water (Johannes 4:10) waarvan jy nie weer dors word as jy daarvan drink nie (Johannes 4:13); dit is 'n fontein met water wat opborrel en die ewige lewe gee (Johannes 4:14) aan elke mens wat daarom vra. Jesus sê hiermee dat Hy die Een is wat al haar, asook jou en my geestelike behoeftes vir ewig kan en sal vervul. Het dit al vir jou 'n waarheid in jou lewe geword?
 
Sy haak egter vas by Jesus se water wat dors vir altyd les en dit onnodig maak om elke dag putwater te kom skep. (Johannes 4:15) Dit verklap dat sy net op menslike vlak aan Jesus dink. Sy is onbewus dat haar geeslewe deur sonde verdroog is en dat net Jesus met sy goddelike gawes, haar en elke mens se geestelike behoeftes en dors kan aanspreek en vervul.
 
Einde ten laaste, tokkel Jesus 'n snaar van haar verdroogde hart: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen." Waarop sy antwoord: “Ek het nie 'n man nie.” (Johannes 4:16-17) 'n Eerlike belydenis wat die pad vir Jesus oopmaak om haar hele lewe tot op daardie moment, oop te rol en hoop in haar lewe in te spreek. Hy som die kern van lewende water op – die aanbidding van God. “God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”(Johannes 4:24)
 
Verstaan jy hierdie waarheid? Geen gelowige kan God in gees en waarheid aanbid, tensy die Heilige Gees dit in en aan jou bevestig nie. Sonder die Gees is ons gebede en geestelike lewe soos leë woorde wat weggewaai word deur die wind, of soos water uit 'n put wat nooit die Groot Dors kan les nie.
 
Die vrou van Samaria het met geloof en verwagting bely: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” (Johannes 4:25-26) Toe dit tot haar deurdring, tree die eers onwaarskynlike getuie na vore as 'n gestuurde getuie. Sy het haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:’Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” (Johannes 4:28)
 
Die Woord getuig van gebeure hierna: “Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”(Johannes 4:39) Nog baie meer van hulle het toe tot geloof gekom op grond van wat Hy gesê het. Die waarheid het deurgedring: Hy is waarlik die Verlosser van die wêreld. (Johannes 4:41-42)
 
Gebed: Vader, dankie dat onwaarskynlike mense tot u eer verander in gestuurdes na mense. As U my kan gebruik, ek is gewillig om te gaan. Ek weet U sal my bekwaam maak. Amen