Carina Francke 

Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
 
In die afgelope week of drie, het ons die kreatiewe maniere herontdek waarop God mense gebruik om sy meesterplan vir die mens in vervulling te bring. Ek weet nie van jou nie, maar in die lig van die mens se gebreke, selfgesentreerdheid en dikwels tref-en-trap metodiek, wonder ek soms waarom God steeds kies om mense te gebruik om sy Goddelike plan in vervulling te bring. Hy weet tog hoe feilbaar ons is!
 
Maar dan onthou ek Jesus se belofte dat Hy die Vader sal vra om: “'n ander Voorspraak, aan gelowiges te stuur om vir ewig by hulle te wees, naamlik die Gees van waarheid.” (Johannes14:16-17) Hy is die onsigbare metgesel wat by en in gelowiges kom huismaak sodat hulle Hom kan ken en sy leiding stiptelik navolg. Hierdie voorreg is die wêreld egter nie beskore nie.
 
Dink 'n bietjie hieroor. Sal jy daarvan hou om in ons onvoorspelbare, stukkende en vyandige wêreld, 'n helper te hê wat 24/7 jou rug teen aanvalle beskerm? Dit is presies wat gebeur wanneer ons hemelse Vader die Voorspraak, die Gees van waarheid, jou lewe instuur. Jy sien, toe Jesus na die Heilige Gees verwys het as “Helper” (Voorspraak) het Hy die Griekse woord “Parakletos” of “Parakleet” gebruik – 'n term uit die eertydse krygskunde. In praktyk beteken dit dat soldate in pare rug aan rug kon staan om mekaar se blinde kant te dek. 'n Persoon se gevegsmaat of helper was met ander woorde jou parakleet – 'n betroubare helper wat jou rug beskerm. Wat 'n Goddelike voorreg het die gelowige nie om die Heilige Gees, die Gees van waarheid as sy onsigbare metgesel te hê nie!
 
Jesus spel in geen onduidelike taal nie, die Gees se opdrag uit: “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig." (Johannes 15:26-27)
 
En dan betrek Hy ook sy dissipels in hierdie opdrag: “En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.” (Johannes 15:27) Hierdie opdrag om te getuig, kry vlerke na sy opstanding en hemelvaart. Ons as 2022 gelowige volgelinge, is nou sy verteenwoordigers op aarde. Kan jy verstaan dat sonder die teenwoordigheid van die Gees van waarheid, die Voorspraak (Parakleet) in en by ons, kan ons nie effektief oor God getuig nie? Hy is die Een wat gelowiges in staat stel en krag gee om God se koninkrykswerk op aarde voort te sit. Hy is die onsigbare metgesel wat koers aandui vir elke werker in die koninkryk van God.
 
Gebed: Vader, dankie vir Jesus Christus, ons Middelaar. Dankie vir die Gees van waarheid wat huis kom maak het in gelowiges se lewens en baie dankie vir die voorreg om die onsigbare metgesel in my lewe te mag huisves. Amen