Ewald Schmidt 

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.” 1 Petrus 2:24-25, 1983-vertaling
 
As jong skoolseun het ek dit beleef om op 'n roetemars in die nag by Graskop Veldskool te verdwaal. Ons kompas het nie gewerk nie. Dit was 'n donker nag, en tussen die bome van die plantasies het ons heeltemal van koers af gedwaal. Dit was in die tyd voor selfone, ons kon nie iemand skakel om ons te help nie. Toe ons nie op die bestemde tyd by ons bestemming uitkom nie, het die personeel ons begin soek. Ure later het hulle ons gekry, kilometers van waar ons moes wees, bang en honger, en baie koud. Ons was baie dankbaar toe ons gevind is!
 
Die Here het ons gemaak om saam met Hom ons lewenspad te stap. Ons is gemaak om in die voetspore van ons Herder te lewe saam met Hom. Hy is ons Bewaker wat ons veilig hou. Tog het die mens die geneigdheid om ons eie koppe te wil volg. Ons dwaal van koers af, ons wil ons eie weg baan deur die lewe. In die proses verdwaal ons, en kry ons seer.
 
Ons het oor die Paasnaweek gevier dat ons Here Jesus na hierdie wêreld toe gekom het om God se kinders te kom soek. Hy het ons gevind. Hy het die prys vir ons ongehoorsaamheid op Hom geneem, en daarvoor aan die kruis betaal. Hy het gekom om ons te herstel in ons verhouding met ons hemelse Vader. Hierdie woorde word so 'n fondament vir ons hele lewe –“deur sy wonde is julle genees.” Hy het ons kom herstel, kom heel maak, en ons voete op 'n nuwe pad geplaas, die pad van die lewe.
 
Nou is dit vir ons belangrik om op koers te bly. Ons is bevry om gehoorsaam te wees aan die wil van God. Wanneer ons vra wat die wil van God vir ons lewe is, dan kom die woorde van Jesus die aand voor sy dood in Johannes 15:10-12 weer op. “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
 
Om in die Herder se voetspore te wandel, om Hom as ons Bewaker te ken, bring vir ons lewe, blydskap en 'n nuwe gerigtheid om lief te hê. Daardeur verander ons eie lewens, en dié van die mense rondom ons wat ons met Jesus se liefde bedien. 

Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons met sulke onverstaanbare liefde kom vind het toe ons verdwaal het. Dankie dat U aan die kruis duur vir my betaal het. Dankie dat U my Herder en Bewaker op die lewenspad is. Lei my nou om lief te hê, om U met blydskap te gehoorsaam en U te dien met my dankbare lewe. Amen