Ewald Schmidt 

“As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” 1 Petrus 2:20-21, 1983-vertaling
 
Ons wil so graag hê dat die lewe baie makliker sal wees wanneer ons Jesus as Here volg. Tog was die Here se kinders dikwels deur die kerkgeskiedenis nie in magsposisies of gemaklike omstandighede nie. Petrus vra hier, soos Paulus in Efesiërs 6:5-8, dat bediendes, of slawe, hulle werkgewers moet respekteer en hulle werk goed moet doen, selfs as hulle eienaars onregverdig is. Dis seker een van die slegste posisies om in te wees in die lewe, as ‘n slaaf sonder vryheid. Selfs in hierdie omstandighede is ons getuienis baie belangrik, sê Petrus. Die manier waarmee ons optree, getuig van die Here waarin ons glo. Uiteindelik het die voorbeeld van Christenslawe die Romeinse Ryk verander!
 
Ons voorbeeld in die lewe is ons Here Jesus, wat vir ons gely het. Daar word van Hom geskryf dat Hy nie sonde gedoen het nie, en nooit ‘n leuen vertel het nie. (1 Petrus 2:22). Hy is beledig, maar het nie terug beledig nie, Hy het gely maar nooit gedreig nie, sê vers 23. Hy het die oordeel in die Vader se hande oorgelos. Jesus het ‘n moeilike voorbeeld gestel, veral wanneer Hy vra dat ons selfs ons vyande moet liefhê (Matteus 5:44) en om die ander wang te draai as iemand jou slaan. (Matteus 5:39)
 
Wanneer ons wraak wil neem en kwaad met kwaad wil terugbetaal, word die donkerte net al hoe meer rondom ons. Wanneer ons in die gesindheid van Jesus ons naaste met liefde en respek behandel, dan word die koninkryk van God sigbaar rondom ons. Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy van die smalle weg gepraat het, en die kruis wat ons gaan opneem om agter Hom aan te kom.
 
Jesus het gekom om ons wonde te genees, sê 1 Petrus 2:24. Daardeur het Hy ons vry gemaak om gehoorsaam te wees aan wat die Here vra. Ons het rondgedwaal soos skape, nou het ons die Herder en Bewaker van ons lewe gevind. Deur Hom na te volg in ons manier van vergewe, liefhê en dien kan ons die wêreld rondom ons verander, sy lig in ons donker wêreld helder laat skyn.
 
Gebed: Here Jesus, dit wat U en die Woord van ons vra, is vir ons baie moeilik. Ek hou nog so vas aan my eie regte in die lewe. Leer my om soos U te kan vergewe, verdra en lief te hê. Mag die wêreld U in my lewe sien! Amen