Ewald Schmidt 

“Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.” 1 Petrus 2:13-17 1983-vertaling
 
Petrus vra 'n moeilike ding vandag! Onderwerp jou aan die owerhede wat oor jou aangestel is. Wat maak ek as daar bose owerhede regeer oor die land waarin ek woon? Ons moet onthou dat Petrus in die Romeinse Ryk gewoon het, wat baie wreed teenoor Christene opgetree het. Petrus erken die funksie wat die Here aan regering gegee het. Die regering is verantwoordelik om wet en orde te handhaaf. Aan die een kant moet die regering dié wat verkeerd doen, straf. Aan die ander kant moet die regering dié wat reg lewe, beloon en prys. Mense in gesagsposisies staan voor die Here verantwoordelik wat hulle daarmee maak.
 
Ons is deel van 'n aardse, onvolmaakte staat. Die staat is nie op dieselfde bladsy as die gelowiges wat bid dat God se koninkryk hier op aarde sigbaar sal word soos in die hemel nie. Ons het dikwels nie 'n groot sê in hoe effektief die staat funksioneer nie. Wat ons in die teksgedeelte vanoggend moet raaksien, is dat ons ook self voor die Here verantwoordelik staan vir ons optrede. Ons is steeds in hierdie wêreld om ligdraers te wees. Petrus herinner ons dat ons 'n einde aan kwaad moet help bring, deur goed te doen. Dit sluit aan by Jesus se opdrag in Matteus 5:14 dat ons lig vir die donker wêreld moet bring.
 
Ons is mense wat vrygemaak is deur Jesus. Daardie vryheid moet voluit gebruik word om die Here te dien. Die praktiese toepassing hiervan is uiters belangrik vandag. Die een plek waar ons God se goedheid sigbaar maak, is die manier hoe ons ons naaste behandel. Die wêreld sal 'n baie beter plek wees as alle gelowiges alle mense respekteer, soos 1 Petrus 2:17 vra. Teenoor ons medegelowiges is ons liefde verskuldig, liefde soos Jesus hulle mee liefhet (Johannes 13:34). In hierdie wêreld leef ons in 'n nabye, respekvolle verhouding met God. Daarom probeer ons ook in ons land 'n verskil maak deur goeie landsburgers te wees wat probeer opbou wat stukkend is.
 
Gebed: Here, vandag se vers is vir my moeilik. Ek sien soveel dinge wat verkeerd is in die regering wat oor my aangestel is. Help my om in hierdie gebroke stelsel deel van u oplossing te wees. Leer my om alle mense met respek te behandel, en my medegelowiges lief te hê tot u eer. Amen.