Ewald Schmidt 

Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.” 1 Petrus 3:1-2, 1983-vertaling
 
Soms weet 'n mens jy is in die moeilikheid nog voor jy 'n woord sê! Hierdie is een van daardie verse in die Bybel wat mense so kan omkrap. Toegegee, ons lewe nou in 'n ander tyd en 'n totaal ander wêreld as toe Petrus hierdie woorde in die eerste eeu in die ou Midde-Ooste geskryf het. Kan 'n mens nog hierdie vers vandag toepas en gebruik in ons lewens?
 
Ek wil versigtig JA sê. Daar is groot waarde om 'n onderdanige vrou te hê … termes en voorwaardes geld! Paulus het ook oor hierdie saak geskryf in Efesiërs 5:22-32, MAAR: 'n mens kan dit nie reg verstaan as jy nie op Efesiërs 5:21 jou verstaan daarvan bou nie. Daar staan: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig …” Ek gebruik hierdie teksgedeelte graag in troupreke. Dan vertaal ek dit met: “omdat julle Jesus liefhet, dien mekaar …” Sonder wedersydse liefde en respek, waarin gelowige mense mekaar dien, werk onderdanigheid nie. Dan word dit onderdrukking.
 
Petrus praat hier met die vroue wat die Here leer ken het, maar hulle mans is nog ongelowig. Om dan vir 'n man te preek, en die hele dag in sy ore te neul, gaan nie werk nie. Dien die Here voluit, en dien jou man as getuienis van die Here se goedheid. Petrus sê: deur jou voorbeeld kan jou man die Here leer ken. Jou voorbeeld is in hierdie geval baie belangriker as jou woorde.
 
Petrus sê baie vir die vroue in die eerste ses verse van 1 Petrus 3, maar gee net een versie vir die manne! Daar in vers 7 word die mans opgeroep: “Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.” 'n Man het wysheid nodig om met 'n vrou saam te leef! As 'n man so geseënd is om die lewe as genadegawe saam met 'n vrou te beleef, dan is hier goeie raad. Eer jou vrou! Respekteer haar, waardeer haar as 'n kosbare geskenk uit die hand van die Here. Skep vir haar 'n veilige ruimte om die lewe saam met jou te geniet. Om by Paulus aan te sluit: dien haar met jou lewe, met jou gawes, jou tyd en jou liefde. Die opdrag wat Paulus gegee het, was dat manne hulle vroue so lief sal hê soos wat Christus sy bruid, die kerk liefhet. Hy het Homself opgeoffer vir sy bruid, al het sy dit nie verdien nie.
 
Kyk weer mooi – as die man nie met wysheid optree teenoor sy vrou nie, is daar ook fout in sy verhouding met God. As sy verhouding met sy vrou nie reg is nie, is daar hindernisse in sy gebedslewe. Maar waar daar vrede en liefde in die huwelik heers, daar beleef gelowiges groot seën in hulle gebedslewe.
 
Eer mekaar, dien mekaar, respekteer mekaar, dit maak die lewenspad saam mooi!
 
Gebed: Here, dankie dat u liefde deursyfer na al my verhoudings toe. U het my gemaak om in harmonie met u liefde te lewe, in alle verhoudings waarin ek staan. Mag ek die mense rondom my met respek en liefde behandel. En as ek so geseënd is om getroud te wees, help my om my lewensmaat met u liefde te dien, en hulle lewe so te verryk dat U verheerlik word daarin. Amen.