Ewald Schmidt 

“Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.“ 1 Petrus 1:17-19 1983-vertaling Vertaling
 
Wat is enige voorwerp werd? Dit wat die mark bereid is om daarvoor te betaal. 'n Goeie vriend was onlangs baie teleurgesteld. Hy wou graag sy motor uit die hand verkoop. Hy het by 'n handelaar die boekwaarde van sy voertuig uitgevind. Toe hy die voertuig adverteer, was niemand bereid om meer as 'n derde van boekwaarde te betaal nie. Markwaarde is wat iemand bereid is om vir iets te betaal.
 
Ons mense het ook 'n waarde. Ons het ons eie opinie van wat ons werd is. Party van ons is al deur die meule van die lewe gestamp en fyngemaak. Ander het dalk 'n baie verhewe opinie van wat hulle dink hulle is werd. Onthou, Petrus skryf vir gelowiges in vervolging, wat baie swaar ly omdat hulle in Jesus glo. Hulle kan nie dink dat daar baie waarde aan hulle lewe op die oomblik is nie. En tog, omdat hulle God as Vader aanroep, en vir Hom probeer leef tot sy eer, het Petrus baie bemoedigende woorde.
 
Gelowiges is meer werd as verganklike dinge soos goud of silwer. Ons meet ons eie waarde so dikwels aan wat ons besit. Ons sloof ons af vir goud en silwer. Niks van hierdie aardse skatte kan ons saamneem op ons reis in die ewigheid in nie. Ons is veel meer werd as dit wat ons besit, of nie besit nie.
 
Ons waarde word bepaal deur die prys wat God vir ons betaal het. Al het Hy alreeds Eienaarsreg gehad, omdat Hy ons gemaak het, het Hy uit liefde weer 'n keer die prys vir ons betaal. Hy het sy Seun as Offerlam in ons plek gestuur, om die prys vir al ons sonde te betaal. Dit was die duurste transaksie ooit! Die Seun van God, in ruil vir my lewe. Dit is wat God betaal het, dit is my waarde in God se oë. EK is kosbaarder as goud of silwer vir Hom. Daarom kan ek maar nederig wees. EK hoef nie van myself meer te dink as wat ek moet nie, dit is slegs sy genade in my lewe. EK hoef ook nie minder van myself te dink as wat ek moet nie, niemand is meer werd in God se oë as ek nie. Wat van my vereis word, is 'n nuwe lewe. 'n Lewe vol dankbaarheid, 'n lewe van toewyding in diens van die Here. 'n Lewe in eerbied vir ons Vader in die tyd wat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is.
 
Gebed: Here Jesus, dankie vir u onverstaanbare liefde. Dankie dat U die Offerlam geword het, om in my plek te sterf vir die sonde. Dankie dat U die dood oorwin het, en lewe, sodat ek 'n nuwe lewe saam met U mag hê. Help my nou om as dankbare mens voluit vir U te lewe! Amen.