Ewald Schmidt 

“Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”  1 Petrus 1:13-16, 1983-vertaling
 
Deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees het ons Jesus as Here leer ken, die Verlosser waarna die profete in die Ou Testament verwys het. Deur Hom het ons nuwe mense geword, mense wat met nuwe hoop lewe. Ons is saam met Hom op pad deur die lewe, tot ons veilig by ons hemelse bestemming aankom. Dis wat Petrus in die voorafgaande verse geleer het – dit is God se werk in ons lewe. Wat is ons verantwoordelikheid?
 
Op baie plekke in die Bybel word die belangrikheid van ons gedagtes onderstreep. Ons word opgeroep om verstandelik wakker en nugter te wees. Die nuwe lewe in Christus begin met die manier waarop ons dink. Sonder Jesus was ons geestelik aan die slaap, dit is die implikasie van hierdie verse. Ons was nie bewus van God se plan vir ons lewe nie, ons gedagtes was bedwelm met die invloed van die wêreld en ons eie begeertes. Maar nou is ons nuwe mense in Christus. Ons lewe met 'n nuwe hoop. Daardie hoop is gebou op die vaste fondament van Jesus, ons Here. Daarom moet ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens verander om te pas by dit wat Jesus vir ons gedoen het.
 
Voordat Jesus Here was, was daar 'n ou lewe waarin ek self die kaptein van my skip was. Ek het gedoen waarvoor ek lus was. Ek was die belangrikste mens in my bestaan, en al my besluite was gevorm deur die vraag: wat is die beste vir my belange? In die uitleef van my eie begeertes kon ander mense maklik seerkry, en ek was nie bewus van die skade wat ek aan hulle veroorsaak het nie.
 
Nou is my lewe onder nuwe bestuur. Ek lewe nie meer vir myself nie, maar vir Hom as Here. Nou is die grootste vraag in my lewe nie meer: “wat wil ek hê nie?". My begeerte is nou om te lewe soos my Here, wat my geroep het om Hom te volg, dit wil hê. Die Here se agenda lyk anders as myne. Hy is heilig. Heiligheid is 'n woord wat seergekry het in die volksmond. Ons verwar dit dikwels met “skynheilig”. Heiligheid is 'n baie positiewe begrip! Dit beteken om afgesonderd vir die Here te wees, tot eer van die Here te bestaan. Dit is rein, suiwer, sonder enige kwade bedoelings. Om binne die wil van God te lewe. Dit is die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het. Dit is waar ons die ware vrede en geluk in die lewe vind – binne God se wil. 

Gebed: Here, dankie dat U my nuut kom maak het. Dankie dat U alles gedoen het wat nodig was om my kind van God te maak. Help my nou, deur die krag van die Gees, om soos 'n kind van God te lewe. Help my om heilig te wees, soos Jesus. Om binne u wil te bly, om te groei en te floreer binne u liefde en goedheid. Amen.