Ewald Schmidt 

“Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. Julle het immers ondervind dat die Here goed is.” 1 Petrus 2:1-3, 1983-vertaling
 
Petrus sê: daar het iets gebeur wat die fondament van ons hele lewe verander het. Ons het die Here se goedheid persoonlik leer ken. Ons het sy genade en liefde in ons lewens beleef. Ons is duur gekoop deur Jesus se kosbare bloed. Ons is nuwe mense, met nuwe hoop. Daar staan in vers 3 letterlik “Kom proe die Here se goedheid” in die Grieks. Kom neem dit in, maak dit deel van jou lewe.
 
As ons die Here se goedheid in ons lewe gesmaak het, dan kom ons agter dat daar dinge is wat nie meer lekker proe in ons lewens nie. Omdat ons nuwe mense is, pas die kwaad, die boosheid, nie meer in by ons nie. Ons strewe na opregtheid, om eg te wees in dit wat die Here nuut gemaak het in ons lewens. Daar is nie meer tyd om voor te gee, of om onsself met ander te vergelyk deur jaloers op hulle te wees nie. Omdat ons harte met die liefde van die Here gevul is, loop dit by ons monde uit … ons weerstaan alle vorme van kwaadpraat. Dinge wat buite die Here se wil is, proe nie meer reg nie.
 
Maar ons nuwe lewe in Christus bestaan nie net uit 'n stel reëls van alles wat ons moet vermy nie. Ons word meer en meer na die beeld van Jesus hervorm. Alles wat nie pas nie, word verwyder. Maar ons word ook opgebou in die positiewe, om meer en meer soos Jesus se voorbeeld te lyk. Hierdie groei gebeur wanneer ons daagliks tyd saam met die Here spandeer, rondom sy Woord. Ons is so afhanklik van die Woord van die Here, om ons te help om die Here al beter te leer ken. Ons het 'n honger na die Woord, soos die pasgebore baba wat smag na melk. Dit is 'n daaglikse behoefte, lewensnoodsaaklik vir ons geestelike groei.
 
In die tyd wat ons saam met die Here rondom sy Woord spandeer, gebeur die transformasie in ons lewens. Al minder van die ou mens in my, al meer die nuwe mens wat na die beeld van Jesus herskep word. God is goed, Hy het dit alles moontlik gemaak, Hy gee alles wat ons nodig het om Hom te ken, en geestelik te groei. Nou kom ons verantwoordelikheid: spandeer tyd saam met Hom. Laat Hom toe om ons harte nuut te maak. Raak ontslae van die dinge wat nie meer pas as nuwe mense nie. Bid en werk saam met die Gees om meer en meer soos Jesus te word.
 
Gebed: Here, dankie vir u goedheid in my lewe. Dankie dat U alles gedoen het wat nodig is om my u kind te maak. Help my nou om u Woord te bestudeer en deel van my lewe te maak. Wys my die dinge in my lewe wat nie meer pas nie, gee my die krag om dit te oorwin. Amen