Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 28: BEGIN NUUT. . . OM GOD VIR SY LIEFDE TE DANK

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Februarie is die maand van die liefde. Gister is geskenke regdeur die land uitgedeel as ’n demonstrasie van ons liefde teenoor mekaar. Tog, mag ons nooit God se demonstrasie van sy onbeskryflike liefde vir ons vergeet nie!]

“Mayday, mayday...” Dít was die noodroep van die beangste Britse vlieënier tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy en sy span was op ’n missie uitgestuur om bomme oor Duitsland af te gooi. Die weermag op die grond het egter die vliegtuig en bemanning getref en hulle was vinnig besig om hoogte te verloor. Die vlieënier se noodroep het al meer desperaat geword.

In die vliegtuig het die soldate gekreun van die pyn. Die lugmagkapelaan, wat in die romp van die bomwerper geskuil het, was die enigste lid aan boort, wat nie in die aanval gewond is nie. Die vlieënier het met al sy krag op die stuur van die vliegtuig geleun in ’n poging om dit bo-oor die heuwel, wat vinnig nadergekom het, te vlieg. Oor sy skouer het hy na die kapelaan geroep om soveel moontlik van die bagasie uit die vliegtuig te gooi om dit sodoende ligter te maak. Die kapelaan het dit gedoen, maar die vliegtuig was steeds te swaar en die berge was nou gevaarlik naby. Sou hulle sterf?

Die vlieënier het sy oë gesluit en terwyl hy skree, hard op die stuur geleun. Net voordat die vliegtuig die heuwel sou tref, het dit skielik opwaarts geskiet en die bergtoppe en bome gemis. Met die Engelse Kanaal in sig, het die vlieënier verlig uitgeroep: “Kapelaan, ons het dit gemaak!” Dit was egter doodstil in die vliegtuig. Na ’n paar minute, het die vlieënier oor sy skouer gekyk en geskok besef dat die kapelaan nie meer aan boort van die vliegtuig was nie. Met die naderende bergtoppe, het die kapelaan uitgespring omdat hy besef het dat sy gewig die res van die bemanning se lewens sou red.

Besef jy dat Jesus 2000 jaar gelede aan ’n kruis op Golgota vir ons presies dieselfde gedoen het? Hy het besef dat ons mense nooit die mas sou kon opkom om sonder sonde voor God te staan nie. Daarom het hy gewilliglik sy lewe vir ons opgeoffer.

In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” En tot vandag toe nog sit Jesus langs sy Vader om vir ons in te tree: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Romeine 8:34, 1983-hersiening).

Wanneer laas het jy vir God dankie gesê dat Hy bereid was om sy Seun vir ons te gee? En leef jy daagliks só dat jy aan God jou liefde vir Hom demonstreer? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U, u Seun Jesus gestuur het om aan die kruis vir ons sonde te sterf. Help my om ’n lewe te leef waarop U trots kan wees. Ek vra vir dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 16 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 14 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.