Vers n dag - 16 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 29: MAAK JY HOM STEEDS JOU EERSTE LIEFDE?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dit was ’n hartseerdag toe die koningin van die koninkryk op ’n jong ouderdom sterf. Sy was die koning se liefde van sy lewe en ook geliefd onder al die inwoners van die koninkryk. Van oral het mense gereis om hulle laaste eer aan haar te kom betoon en daar was baie trane toe die koning se knegte haar kis deur die strate van die stad dra.
Ná die optog deur die strate het die knegte die kis langs die graf neergesit. Die koning het langs die kis neergeval en hartverskeurend begin snik: “Justine! Justine! Hoe gaan ek ooit sonder jou kan leef?!” Hy het vir ’n geruime tyd daar bly sit. Toe hy eindelik opstaan het hy sy trane afgevee en met ’n gedetermineerde kyk in sy oë aangekondig: “Knegte, gooi toe die graf. Ons gaan nie die koningin hierin begrawe nie. Van môre af begin ons bou aan ’n tempel met net die beste materiaal sodat ons haar in ’n ereplek kan begrawe. Niemand mag ooit van haar vergeet nie!”
Die bouwerk is begin. Soos die maande in jare verander het, het die gebou al meer indrukwekkend geword terwyl die bouers al minder aandag aan die vaal, stowwerige houtkis in die middel van die vertrek gegee het.
Op ’n dag stap die koning die tempel binne om die marmerwerk en die fyn kunswerke teen die mure te bewonder. In sy skik draai hy om, om uit te stap toe hy per ongeluk sy voet teen die bruin houtkis in die middel van die vertrek stamp. Geïrriteerd het hy een van die knegte nader geroep en hom beveel om die houtkis uit die tempel te verwyder. Onbewus het die koning die opdrag gegee dat die koningin uit die tempel verwyder word.
Hoeveel van ons het nie ook al soos die koning in dieselfde strik getrap nie? Aanvanklik staan ons verstom oor God se grootheid, liefde en verlossingsplan vir die mensdom. Ons kan nie wag om almal rondom ons van Jesus se opoffering vir ons aan die kruis te vertel nie. Dan, as ons nie pasop nie, begin die vyand toeslaan deur ons so besig te maak met dinge van die Here (byvoorbeeld sopkombuise, basaars, selgroepe en vele ander projekte) dat ons die Here van die dinge begin vergeet.
Luister weer na God se woorde in Openbaring 2:2-5: “Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. . . Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. . . Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. . .”
Kan jy met ’n eerlike hart sê dat God steeds jou eerste liefde in jou lewe is of het jy mettertyd toegelaat dat ander dinge vir jou belangriker word? Kom ons kies saam vandag om Hom weer op die troon van ons harte te plaas! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u liefde vir my. Help my asseblief om nie so besig te raak met dinge wat U kan verheerlik dat ek nie tyd saam met U spandeer nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.