Vers n dag - 14 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 27: BEGIN JOU DAG … SAAM MET GOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Waar en wanneer spandeer jy tyd saam met God?
In ’n onlangse meningspeiling het een van die mense met wie ek ’n onderhoud gedoen het, aan my vertel dat sy elke oggend voor werk vir ’n halfuur op haar stoep gaan sit om met God te ontmoet. ’n Ander vrou het my vertel dat sy soggens vir 15 minute op haar balkon gaan staan om vir God vir wysheid vir die dag te vra en ook vir beskerming vir haar en haar gesin. En een van die mans het vertel hoe hy vroegdag aanbiddingsmusiek werk toe luister en sorg dat hy ’n paar minute vroeg by die werk opdaag sodat hy agter ’n toe kantoordeur sy dag saam met God kan begin.
Al erken meeste mense met wie ek gesels het dat ’n verhouding met God beteken dat ons regdeur die dag met Hom kan praat, is hierdie oomblikke waarin hulle soms net luister van kardinale belang om God te leer ken. En ’n interessante verskynsel was dat al drie bogenoemde persone aan my vertel het dat hulle mettertyd onmiddellik God se teenwoordigheid op die stoep, die balkon of in die kantoor kon aanvoel wanneer hulle daar kom – amper asof Hy van sy kant af die afspraak nakom.
Luister gerus weer na die woorde in Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
God het ons mense geskep om in ’n verhouding met Hom te staan. Hy begeer dat ons Hom deel van elke aspek van ons lewens maak. Soms is die stem van die Heilige Gees heelwat duideliker in ons harte as wat ons besef.
Waarom kies jy nie om vir ’n slag die radio in jou motor op pad werk toe af te skakel sodat jy met God kan praat of ’n paar minute vroeër by jou werk op te daag sodat jy die kantoordeur agter jou toetrek om God in jou dag in te nooi? As jy met ’n opregte hart na Hom nader sal jy ervaar dat Hy ook na jou nader. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U ’n verhouding met my beheer. Help my asseblief om my tyd só te bestuur dat ek meer tyd saam met U kan inruim. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.