Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 26: BEGIN NUUT... MET DIE REGTE VRUGTE AAN JOU BOOM

Deur Benescke Janse van Rensburg

Gestel jy is mal oor perskes, maar allergies vir pruime. In jou opgewondenheid oor julle nuwe huis met die groot agterplaas, stop jy by die kwekery om vir jou ’n perskeboom te koop wat jy daar gaan plant. As al die bome in die kwekery kaal en sonder vrugte is, hoe gaan jy weet dat die boom wat jy gekoop het werklik ’n perskeboom is? Jy sal moet wag totdat die boom begin bot en vrugte dra, nie waar nie?

Tog, wat sal jou reaksie wees as jy na maande waarin jy die boom met kunsmis en water versorg het op ’n dag geskok staan en kyk na die pruime aan die boom by die besef dat jy ’n pruimboom gevat het wat reg langs die perskebome in die kwekery gestaan het?

Ons gelowiges op aarde kan met die bome in die kwekery vergelyk word. Ons noem onsself “Christenbome” wat potensieel die “Heilige Gees se vrug” kan dra. Die ware toets kom egter by die bot-gedeelte.

Hoe hanteer jy oomblikke waarin jou humeur beproef word, wanneer situasies in die werkplek anders verloop as wat jy beplan het, of situasies waarin jy gronde het om jou vyand terug te betaal vir wat hy of sy aan jou gedoen het? Kies jy om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel van jou lewe te maak? Of dra jy die vrugte van rusie, woede, afguns en al hierdie dergelike dinge?

In Galasiërs 5:19-22 lees ons van twee verskillende tipes vrugte wat elkeen van ons potensieel aan ons lewensboom kan dra:

TIPE 1: VRUGTE VAN DIE SONDIGE NATUUR

  • Galasiërs 5:19-21: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”

TIPE 2: VRUGTE VAN DIE HEILIGE GEES

  • Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.” 

Dra jy vandag perskes of pruime aan jou takke? Moedig jou optrede die mense rondom jou aan om nader aan God te groei om om van Hom af weg te stap? Kom ons nooit die Heilige Gees nuut in ons lewens in sodat ons woorde en dade begin ooreenstem! Sterkte.

Vader God, kom woon vandag nuut deur u Gees in my lewe. En lei my daagliks waar ek nog swak is om vrug te begin dra wat getuig dat U die belangrikste in my lewe is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 14 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 10 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.