Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 25: BEGIN NUUT . . . OM HOM BESKERMING TE VERTROU

Deur Benescke Janse van Rensburg

[AGTERGROND: Dankie aan almal wat hulle getuienisse die afgelope paar dae met my gedeel het. Jy kan dit steeds doen deur ’n e-pos te stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek deel graag twee getuienisse van lesers wat getuig dat God ons beskerm en van ons krisisse weet.]

Leser 1, Shani: “Ek het een aand ’n vreemde droom gehad waarin my oorlede oupa en man gesit en gesels het. Die volgende oggend het ek vir God gevra om my deur sy Heilige Gees te lei om die boodskap te ontdek wat in die droom opgesluit gelê het aangesien my oupa toe reeds tien jaar lank dood was.

In my gees het ek ervaar dat ek vir my man se veiligheid moes bid. Ek het die hele dag die bloed van Jesus Christus oor hom gepleit. 

Ná ’n besige dag by die werk, het my man tuisgekom. Ek het hom onmiddellik gevra of hy daardie dag  in enige gevaar was. Met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig het hy geantwoord: ‘Ja, ek het ’n kop-aan-kop botsing letterlik met sekondes gemis!’  In my hart het ek God geloof en geprys dat Hy my vooraf gewaarsku het om vir my man se veiligheid te bid. Alle eer gaan aan Hom!”

Leser 2, Henk: “’n Paar Sondae gelede het my motor se battery (wat minder as twee jaar oud is) meteens foutief geraak. My moed het in my skoene gesak aangesien ek onnodige kostes sou moes aangaan om dit te herstel.  

Daardie Maandagoggend het ek ’n alternatiewe roete werk toe geneem om sodoende ’n nuwe battery te bekom. Net voordat ek op die snelweg sou klim, het ek ’n man gesien wat gestaan en duimgooi het. Hy het baie desperaat gelyk. Hoewel ek ’n beleid het om nie rylopers op te tel nie, het ek in my hart ervaar dat ek die man moes oplaai. Ek het dit gedoen.

Ons het aan die gesels geraak. Die man, Willem, het my vertel dat hy in Pretoria kom werk soek het. Nadat hy in September verlede jaar sy werk verloor het, moes hy en sy gesin noodgedwonge al hulle waardevolle besittings begin verkoop om aan die lewe te bly. Op daardie stadium was hy en sy gesin reeds vir drie dae lank sonder kos. Dit het hom as pa van die huis gebreek.

Een van sy grootste uitdagings was om sy gereedskaptas, wat hy vroeër uit desperaatheid moes verkoop om kos te koop, terug te kry. As ambagsman het hy ’n potensiële werkgeleentheid gehad mits hy sy gereedskap betyds kon terugkry. Weer het ek ervaar dat God my gelei het om Hom te help. Ons het na Benoni vertrek na die winkel waar hy vroeër sy gereedskaptas verkoop het en dit gaan terugkoop.  

Later het Willem my vertel dat hy daardie dag langs die pad op moedverloor se vlakte was. Hy was op die punt om te gaan selfmoord pleeg, maar toe stop ek langs die pad om hom op te laai. Ek staan verstom oor God se begeerte om ons in ons moeilike tye te help. En ek prys Hom vir die voorreg dat Hy my daardie dag met ’n ompad werk toe gestuur het sodat ek ’n instrument in sy hand kon wees!” 

Shani en Henk is reg. God wil ons help en beskerm. Luister maar na die woorde in Psalm 121:7-8: “Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

God ken ons geskiedenis, ons huidige krisisse, maar Hy weet ook wat Hy vir ons in die toekoms beplan. Kom ons kies om Hom te vertrou om ons daagliks te beskerm – en ons deur ons krisisse te dra. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U betrokke is in my lewe en dat U ons daagliks beskerm. Lei my daagliks om te weet waar U my as ’n instrument wil gebruik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

*Sien foto’s op STORIES VAN HOOP se bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Previous article: Vers n dag - 13 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 9 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.