Vers n dag - 9 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 24: BEGIN NUUT BOU . . . OP DIE REGTE FONDAMENT
Deur Benescke Janse van Rensburg
Op ’n dag was daar ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom en winde het aan die huis geruk. Tog het dit nie ineengestort nie, want die huis se fondament was op rots.
Sy buurman het sy huis op sand gebou. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom en winde het aan die huis geruk. Die huis het ineengestort en is heeltemal verwoes.
Kom ons lees weer hierdie storie:
Op ’n dag was daar ’n verstandige man wat saam met sy gesin hulle lewens op God gebou het. Die stortreën in die vorm van stres by die werk, geleenthede om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop, geldelike probleme en siekte, het hard aan hul gesin se lewens geruk. Tog het hulle telkens saam na God gegaan om Hom vir hulp gevra. Hul liefde vir God en vir mekaar het hulle telkens deurgedra, want hul huwelik was op God as hulle fondament gebou.
Hierdie familie se bure het hulself “Christene” genoem, maar nie hulle verhouding met God ’n prioriteit gemaak nie. Die stortreën in die vorm van stres by die werk, geleenthede om buite-egtelike verhouding aan te knoop, geldelike probleme en siekte het hard aan hulle gesin se lewens geruk. Nie net het hulle voor die versoekings geswig nie, maar die druk het hulle as gesin uitmekaargedryf. Uiteindelik het hul lewens ineengestort omdat hulle fondament verkeerd was.
Luister weer na die woorde in Psalm 127:1: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.”
Waarop bou jy jou lewe? Sal jou staande bly as die stortreën val, die vloedwaters afkom en die winde aan jou lewe begin ruk? Kom ons kies vandag saam om God die fondament in ons lewens te maak! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om die fondament van my huwelik (of my lewe) te bou. Lei my daagliks om nie besluite uit my eie krag te neem nie, maar telkens te vra vir u leiding deur u Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.