Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 8 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 23: BEGIN NUUT… OM WEER LIEF TE HÊ

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Ek kry gereeld lesers wat my per e-pos vra of ek dink dat God aan hulle ’n tweede kans op geluk sal gee na ’n mislukte verhouding. Hierdie storie mag jou dalk help om jou oë oop te hou – en ook elke geleentheid aan te gryp.]

Langs tannie Marie se oop graf het oom Sarel gehuil asof sy hart wou breek. Haar dood was vir hom ’n geweldige slag. Die meeste van die buurmense het langs die graf verbaas na mekaar geloer. Niemand het ooit besef dat hierdie “groot sagte reus”, soos hulle oom Sarel ken, eintlik ’n diep liefde en omgee vir sy buurvrou in die aftreeoord gehad het nie.

Nadat meeste van die roubeklaers die begraafplaas verlaat het, het die predikant na oom Sarel gestap waar hy steeds hartverskeurend langs die graf gestaan en snik het. “Oom Sarel,” het die predikant met ’n sagte stem begin. “Ek is seker tannie Marie is nou op ’n beter plek en dat sy jou liefde geweldig waardeer het terwyl sy nog geleef het.” Hierop het oom Sarel egter net harder gesnik.

Toe oom Sarel effens bedaar, het hy stadig sy kop na die predikant gedraai met die woorde: “Dominee, ek was vir jare lank lief vir hierdie vrou. En daar was een dag... een dag dat ek haar amper van my liefde vir haar vertel het! Maar ek het nie – en nou is dit te laat!”

Ná oom Sarel se egskeiding ’n paar jaar vantevore, het hy homself, uit vrees dat hy weer sou seerkry, voorgeneem om nooit weer sy hart vir liefde oop te stel nie. Langs tannie Marie se graf het hy meteens besef dat sy vrees hom van ’n tweede kans op liefde en geluk beroof het.

Sit jy in ’n soortgelyke situasie as oom Sarel? Het ’n gebroke verhouding uit die verlede veroorsaak dat jy ook jou hart gesluit het vir ’n tweede kans op geluk? Het ’n vriendin, vriend of familielid jou in die verlede teleurgestel of seergemaak wat veroorsaak dat jy geen merkwaardige vriendskappe het nie of dat jy nie meer met jou familie praat nie?

Luister dan weer na Paulus se woorde in 1 Johannes 4:17-18: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees… Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” Ook in Markus 11:25 lees ons: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

God kan die seer van enige hart genees. Hy kan aan jou ’n tweede kans op liefde en geluk gee. Begin vergewe en kies om jouself nie langer te isoleer of mense uit jou lewe uit te sluit nie. Niks kan slegter wees as om soos oom Sarel langs ’n oop graf te staan en te besef dat jy nooit weer ’n geleentheid sal hê om aan ’n geliefde te sê dat jy hom of haar liefhet en waardeer nie! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U aan my ’n tweede kans op geluk kan gee. Help my asseblief om nie meer agter my seerkry weg te kruip nie, maar ’n punt te maak om na ander mense in liefde uit te reik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin by 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 9 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 7 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.