Vers n dag - 7 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 22: BEGIN NUUT. . . MET STABILITEIT IN JOU LEWE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Het jy al ooit gesukkel met ’n stoel met gladde pote wat aanhoudend op ’n vloeroppervlakte gly? Buiten vir die merke wat die stoelpote agterlaat, moet mens konsentreer om nie van die stoel af te val as dit buite beheer rondskuif nie. Die beste manier om dié probleem op te los, is om ronde stukkies rubber onderaan die stoelpote vas te sit. Só stabiliseer jy die stoel en kan dit nie meer rondskuif nie.
Wanneer ons deur ’n krisis in ons lewens gaan, voel ons soms soos die stoel wat buite beheer rondskuif. In hierdie tye moet ons konsentreer om nie beheer van ons lewens te verloor nie. Regdeur die Bybel was daar verskeie mans en vroue wat hulself ook in desperate situasie bevind het. Dink byvoorbeeld aan Josef, alleen in ’n tronksel in Egipte, Jona op pad na Tarsus in stede van Nineve, Gideon wat met net 300 mans ’n oorlog teen ’n weermag van derduisende mans binnestap of Ester wat haar lewe gewaag het om na die koning te gaan om vir die oorlewing van die Jode te pleit.
Sit jy vandag met ’n krisis in jou lewe wat dit moeilik maak om te vertrou dat God vir jou ’n deurbraak gaan bewerkstellig? Voel jou lewe totaal buite beheer? Dit is dan tyd dat jy rubbers aan die onderkant van jou “stoel se pote” begin plak. Hoe doen jy dit? Jy gaan terug na die Woord en begin jouself herinner aan wie God is en wat Hy vir jou kan doen. Hier is vier beloftes – een vir elke poot van jou stoel:
- Jesaja 26:4: “Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug.”
- Psalm 34:5,6,18,19: “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie. . . Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
- Psalm 31:23-24: “Ek het in my angs gedink: Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. Tog, U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het.”
- Jeremia 17:7-8: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is; so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het . . .”
God verdryf vrees en bring stabiliteit aan die mees onstabiele situasies. Al wat ons moet doen, is om Hom in ons lewens in te nooi. In die donkerste tye van ons lewens ervaar ons sy krag gewoonlik die duidelikste. Neem beheer, plak jou rubbers en voel hoe God se vrede oor jou lewe neerdaal! Hy verander nooit nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Bring asseblief weer stabiliteit in my lewe waar dit voel asof ek beheer verloor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin at 021 949 7419 of
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.