Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 6 Februarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 21: BEGIN NUUT. . . MET ’n REIN HART

Deur Benescke Janse van Rensburg

Naalde, knope, muntstukke, ’n televisie-kontrole, ’n soutpot en beendere van diere. Dít is enkele van die vreemde voorwerpe wat oor die afgelope 80 jaar tydens operasies in ’n Kroatiese hospitaal uit pasiënte verwyder is. Hoewel die artikels aanvanklik gehou is om aan jong voornemende mediese studente te demonstreer wat op hulle mag wag, het die hospitaal onlangs besluit om die versameling te raam en in die hospitaal te vertoon, tot  vermaak van besoekers. 

Een van die redes waarom dokters vreemde voorwerpe so spoedig moontlik uit pasiënte moet verwyder is omdat dit ’n infeksie kan veroorsaak wat later die pasiënt se hele liggaam kan affekteer.

Ongelukkig laat ons ook soms toe dat “vreemde voorwerpe” in die vorm van selfsug, jaloesie, trots, ’n kort humeur, bitterheid en ’n onvergewensgesindheid in ons harte posvat en groei. As ons nie toelaat dat God dit verwyder nie, gaan ons ook beleef hoe dit ’n infeksie veroorsaak wat later ons hele lewe affekteer.

God is heilig en Hy begeer dat ons met ’n rein hart voor Hom sal staan. In Psalm 24:3-4 lees ons: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is. . .” Ook in Mattheus 5:8 sê Jesus: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

In Efesiërs 4 vind ons ’n paar wenke hoe ons hierdie “vreemde voorwerpe” uit ons lewe kan hou: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. . . As julle kwaad word, moenie sondig nie . . . Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. . . Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

God is ons Chirurg. Omdat Hy ons liefhet, kan Hy sy skalpel nadertrek en die dinge uit ons harte sny wat ons geestelike doodmaak. Kom ons vra Hom dus om dit te doen voordat dit te laat is. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Wys my asseblief wat in my lewe ek moet verander en versterk my om dit te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal bekendgestel. Vir meer inligting, kontak Karin at 021 949 7419 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 7 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 3 Februarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.