Louise Gevers 

En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef." Markus 11:25, 2020-vertaling
 
en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan.
 
Op 'n keer het ek my in 'n moeilike situasie bevind toe ek iets by 'n vriend moes gaan aflewer, maar daar geen parkering was nie. Na ek om die blok gery en daar steeds geen parkering was nie, het ek half ongemaklik besluit om voor die gemeenskaplike hek te parkeer, want, so het ek geredeneer, ek sou letterlik net in en uit hardloop en terug wees voordat iemand kom.
 
Alhoewel ek so vinnig moontlik gemaak het, was ek tot my ontsteltenis net betyds om te sien hoe 'n motor stilhou want dit was onmoontlik om deur te hek in te ry. Ek het baie skuldig gevoel oor dit wat ek wetende veroorsaak het en het my voorberei om die persoon om verskoning te gaan vra. Maar dit was nie nodig nie. Voordat ek iets kon sê, het hy met 'n groot glimlag op sy gesig, deur die oop venster gesê: "Ek het jou klaar vergewe!"
 
Dit was wonderlike woorde vir 'n boetvaardige persoon om te hoor, en die opregte glimlag het dit nog meer waardevol gemaak. Ek het weggery, bemoedig en baie dankbaar vir die verskil wat sy vrygewige hart aan 'n moeilike situasie gemaak het. Mense is nie dikwels bereid om die woede en verwyte teenoor iemand wat hulle veronreg het te beheer nie, en tog is dit belangrik vir ons welstand om in 'n gees van vergifnis te leef. In vandag se teks (Markus 11:25) herinner Jesus se woorde ons daaraan dat God ons sonde vergeef wanneer ons iemand teen wie ons iets het, vergeef.
 
Vergifnis help mense om in vrede te leef. In Spreuke 17:9 lees ons: "Wie 'n oortreding bedek, streef na liefde …" Stel jou voor, watter impak dit op padwoede en vele ander situasies kan hê, as mense hierdie wyse woorde belangrik ag en vergifnis die norm maak.
 
Salomo sê: "Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings." (Spreuke 10:12) Onwilligheid om te vergeef, spruit uit trots en 'n onwilligheid om seerkry te laat gaan, en dit lei tot verdere seer en onenigheid. 'n Keuse om te vergeef en ons trots prys te gee, alhoewel soms baie moeilik, beteken dat liefde wen en die hemel jubel want dit het ewigheidswaarde.
 
Ons kan maar net dink aan Jesus se woorde aan die kruis, gebore uit liefde en genade, om die krag van vergifnis te verstaan en daardeur bemoedig te word. Vir Jesus om na sy vyande wat vir sy dood vra te kyk en dan te sê: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23 :34) het hulle lewens en ons s'n vir ewig verander. As sy volgelinge, het God " ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het." (Kolossense 1:13-14)
 
Paulus sê aan die Kolossense: "Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. (Kolossense 3:13) Mag hierdie opdrag ons daaraan herinner om elke dag in die krag en vrede van vergifnis te leef.
 

Gebed: Vader help ons, om "goedgesind teenoor mekaar [te wees], met innige meelewing, terwyl [ons] mekaar vergewe soos God in Christus ons ook vergewe het. (Efesiërs 4:32). Gee dat u liefde deur ons sal skyn. Amen