Louise Gevers 

Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevindLukas 10:21, 2020-vertaling
 
Laat ons dan deur Hom voortdurend 'n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely. En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers. Hebreërs 13:15-16, 2020-vertaling
 
Lofprysing is om God te erken vir wie Hy is en Hom in al die seisoene van ons lewe te dank vir sy seëninge. Dit spruit uit 'n hart van toewyding en 'n gees van nederigheid, en dit is nie net lippetaal nie. Die skrywer van Hebreërs sê dat om God te prys handel oor opoffering, vreugde gekombineer met iets moeilik, maar beide verlang dat ons ons wil aan Hom moet oorgee. Lofprysing word nie tot een plek beperk nie, waar ons ons ook al elke nuwe dag bevind, is dit 'n nuwe dag om God te prys en dank vir sy seëninge.
 
Toe Jesus God geprys het, het Hy "deur die Heilige Gees dit uitgejubel" vol blydskap oor die sukses van sy eerste missie. Die twee-en-sewentig wat Hy uitgestuur het, het in gehoorsaamheid aan sy opdrag dit waarvoor Hy hulle gestuur het bereik en met kinderlike geloof selfs die demone in sy Naam onderwerp. Jesus verbly Hom dat sy Vader dit goedgevind het om sy mag aan eenvoudige en ongeleerde mense te openbaar, en die nederigste onder hulle in staat stel om sy Koninkryk te bevorder om Satan te verslaan, en dat Hy verlossing toeganklik maak vir diegene wat kinderlik glo, terwyl Hy dit vir "slim en geleerde mense" met hulle eie trotse agendas verberg.
 
Alhoewel Jesus baie bly was om te sien hoe, in hierdie sending, goed oor kwaad triomfeer, was sy grootste vreugde egter dat hulle gered is. Hy het die prioriteite vir hulle duidelik gemaak en hulle gewaarsku: "En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is." (Lukas 10:20)
 
Met soortgelyke bedoelings fokus die skrywer van Hebreërs sy lesers se aandag op Jesus, die volmaakte voorbeeld van lofprysing en opoffering. Hy vra hulle om Jesus se voorbeeld te volg en "voortdurend 'n lofoffer aan God [te] bring". "Voortdurend" beskryf die "wanneer" van prys en "offer" help ons om te verstaan hoe 'n volkome lofoffer aan God daar moet uitsien. Hy beklemtoon dit verder wanneer Hy sê: "En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers."
 
Hoe ons in verhouding tot God en ander leef, is belangrik vir ware lofprysing. Die offer wat ons bring wat God waardig is, vloei uit 'n hart wat Hom en ander offervaardig liefhet, en Hom kan prys selfs wanneer ons hartseer en bedroef is. Dit hang nie af van hoe mooi ons stemme is of hoe melodieus die instrumente is nie.
 
Die metafoor van vrugte, help om te illustreer dat die kwaliteit van lofprysing wat deur ons lippe kom, stem ooreen met dit wat in ons harte groei. Die lekkerste, ryp vrugte kom van die lippe van diegene wat Hom liefhet, Hom vereer en sy gebooie bewaar.
 
Hoe kan ons aan die begin van hierdie jaar ons benadering tot lofprysing hernu sodat ons voortdurend 'n [waardige] lofoffer aan God [kan] bring"?
 
Gebed: Vader, "so baie het U, Here my God, gedoen – u wonders en wat U vir ons beplan het. Niemand kan met U vergelyk word nie. Ek wil dit graag bekend maak, … maar dit is te veel om op te noem. Slagoffers en  graanoffers is nie wat U wil hê nie – U het my ore oopgemaak … Daarop het ek gesê: “Kyk, ek het gekom …" (Psalm 40:6-8) Help my om 'n nuwe loflied te sing en U met my lewe te eer. Amen