Louise Gevers 

Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete. Toe is onder die nasies gesê: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” Die Here het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug. Psalm 126:2-3, 2020-vertaling
 
Lag is dikwels 'n spontane reaksie wanneer ons ontspanne is en iets snaaks is. Wanneer ons egter deur 'n moeilike tyd van swaarkry of rou gaan, word lag 'n vreemdeling vir ons, en vreugde 'n herinnering aan 'n tyd wat verby is. Dit is slegs wanneer die donker tyd uiteindelik verby is dat verligting, lighartigheid en geluk weer in ons harte kan opwel en groot golwe vreugde en lag uitborrel en almal rondom ons aanraak.
 
Dit was die ondervinding van die pas bevryde Israelietiese bannelinge wat God na Sion teruggebring het. Hulle was lank weg van hulle vaderland, in 'n vreemde land waar hulle hartseer die bitterheid van ballingskap beleef het, en wanneer hulle ontvoerders hulle gemartel het, was dit nie vir hulle moontlik om hulle eie liedere met vreugde te sing nie.
 
Maar toe God hulle teruggebring het, was dit asof hulle verskriklike nagmerrie in 'n wonderlike technicolor droom verander het. Toe hulle besef dat hulle bevry is, was hulle so oorweldig dat hulle nie kon ophou sing en lag nie. "… ons monde [is] met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete." Die Here "het [ons] rouklag in 'n koordans verander, [ons] rouklere uitgetrek en [ons] met vreugde omgord …" (Psalm 30:12)
 
God het hulle uiteindelik bevry en hulle loof Hom heelhartig! Salomo het gesê daar is " 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag; 'n tyd om te rou en 'n tyd om te dans". (Prediker 3:4) Hulle tyd van huil en rou was nou verby – hulle tyd om te lag en dans het aangebreek.
 
Daar is niks gering aan hoe God dikwels op 'n wonderbaarlike manier werk om groot dinge, duidelik vir almal om te sien, vir sy volk doen. Hy het hulle gedissiplineer toe hulle Hom verlaat het, maar as "die God wat … sien" (Genesis 16:13) het Hy hulle tot hulp gekom toe hulle in nood was – net soos Hy vir Hagar en ander na haar, gedoen het. Wat 'n gesig moes dit nie vir die omliggende nasies gewees het toe hulle die effek van hierdie groot genadedaad gesien het nie.
 
Die vreemdheid en eensaamheid van die afgelope twee jaar het ons weggehou van gesamentlike aanbidding en ons uitgebreide familie. Dit het baie van ons 'n smakie gegee van dit wat die Israeliete in ballingskap beleef het. Maar, alhoewel ons vryheid ingeperk was, was dit nooit nodig om in geestelike gevangenskap te bly nie want Jesus het gesterf en weer opgestaan om ons vry te maak. Ons weet dat "selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe" (2 Korinthiërs 4:16) en "tot dit alles is [ons] in staat deur Hom wat [ons] krag gee" (Filippense 4:13)
 
Wanneer ons voel dat ons in 'n monochrome wêreld leef en dat dit nodig is om ons vreugde te herwin, "laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring" (Hebreërs 12:1) sodat ons deur Jesus vry kan wees van die sonde wat ons skei van God se reddende genade.
 
Gebed: Hemelse Vader, breek asseblief die boeie wat my vasbind aan daardie dinge wat my weglok en my aandag aftrek "van alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien" (Filippense 4:8), en wanneer U my bevry, vul my weer met vreugde en lag wanneer ek U kragtige werk aanskou. Amen