Louise Gevers 

Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?
 
Ek hoor die geroep nog voordat ek Audi se skitterende ogies en opgewonde gesiggie sien waar sy ongeduldig wag dat ek die hek oopmaak. "Ek het vir jou 'n persent gebring! Ek het vir jou 'n persent gebring!" Sy kon haarself skaars inhou terwyl sy my help om die geskenk oop te maak, en toe die duidelik sigbare teleurstelling: "Maar waar is die speelding?" Natuurlik was daar nie 'n speelding in my geskenk nie, maar sy het baie min ervaring van 'n geskenk sonder 'n speelding. Haar reaksie was dus verstaanbaar.
 
Ons het al almal by tye teleurstelling beleef, wanneer die werklikheid van die "geskenk" verskil van dit wat ons verwag het. Baie van ons het al situasies beleef waarvan ons nie kon wegstap nie, situasies by die werk, in ons gesinne, met ons gesondheid of van die omstandighede in die land, sake waaroor ons geen beheer het nie en wat ons moes verwerk, soms, soos Jeremia, met groot angs.
 
Jeremia was God se profeet wat Hy reeds aan Hom gewy het voordat Hy hom in die moederskoot gevorm het. (Jeremia 1:5) Dit het nie beteken dat hy 'n maklike lewe sou lei nie – inteendeel. Ongewild, eensaam, hartseer en gestres, en niemand wie hy kon vertrou nie. Daarom kan 'n mens verstaan hoekom hy soms sy gevoelens uitgespreek het en, tot sy krediet, sy hopeloosheid ingesluit het. Jeremia was nie die enigste een nie. Baie ander wat geroep is om God te dien, het ook lyding en wanhoop beleef, veral Job en die psalmdigters.
 
Alhoewel die Here aan Jeremia gesê het om nie bang te wees nie en beloof het dat Hy by hom is en hom sou red, moes sy taak tog vir hom oorweldigend voorgekom het, en tog sien ons in dit 'n belofte van hoop: "Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. (Jeremia 1:10)
 
Jeremia het in 'n onrustige tyd in die geskiedenis geleef. Nasies was in oproer en selfs Juda se godvresende koning Josia, vir wie Jeremia groot affiniteit gevoel het, is deur die Egiptiese faro doodgemaak, en dit was vir hom 'n groot verlies. Jeremia moes die mense waarsku, leer en ongewilde boodskappe bring. En hy moes die vernietiging van Jerusalem aankondig wat regstreeks ingedruis het teen die gewilde boodskap van vrede wat die vals profete verkondig het.
 
Maar hy het ook 'n boodskap van hoop gebring in teksverse wat vandag steeds gekoester word: "So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het." (Jeremia 29:10-14)
 
Alhoewel Jeremia baie gely het, kan ons bemoedig word deur die feit dat sy lyding nie tevergeefs was nie, maar dat dit sy bediening versterk, ryk en vol gemaak het en steeds relevant is vir vandag. Die wonderlikste is dat ons daarin sien hoe God se genade sy toorn versag, en hoop bring vir 'n nuwe dag wat sal aanbreek en sy belofte vir verlossing sal vervul.
 
"Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly." (2 Korintiërs 4:16-17)
 

Gebed: Vader, "in alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie." (2 Korintiërs 4:8-9) Dankie dat ons hoop in U is. Amen