Louise Gevers 

Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. Psalm 51:12-14, 1983-vertaling
 
Die uitoefen van die regte keuse begin in ons gedagtes en affekteer die liggaam en gees. Het jy al die uitdrukking "jy is wat jy eet" gehoor? Dit beteken om fiks en gesond te bly moet jy gesonde kos eet. Wanneer jou dieet gelaai is met ongesonde kos is dit nie moontlik vir jou liggaam om dit so te verwerk dat jou gesondheid daarby baat nie, en vroeër of later gaan die tekorte in jou dieet gevolge hê. Dit werk ook so met ons verstand en gees.
 
Wat ons kies om ons gees en verstand mee te voed, skep 'n gesonde of ongesonde omgewing wat mettertyd ons aksies beïnvloed. 'n Ongesonde dieet kan ons waarnemingsvermoë en verdedigingsmeganismes verswak en dit bemoeilik om die regte keuses in moeilike omstandighede te maak, terwyl 'n gesonde dieet 'n gesonder gees skep wat makliker verkeerde dinge kan herken – selfs wanneer die keuse onskuldig en binne ons regte blyk te wees.
 
Om 'n geestesstryd, groot of klein, te oorkom moet ons eers beheer van ons begrip van 'n situasie oorgee aan die Here se groter visie en doel en bly by die voorskrifte van sy Woord wat ons sal onderrig en in staat stel om sy leierskap te herken. Ons moet konsekwent aan Hom gehoorsaam wees, anders kan ons 'n aptyt ontwikkel wat sal veroorsaak dat ons te lig bevind word.
 
In vandag se Psalm erken Dawid sy sonde wat hy gepleeg het in die "tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak … maar Dawid het in Jerusalem agtergebly". (2 Samuel 11:1) Hy erken met hartseer dat hy nie die versoeking kon weerstaan van Batseba, die vrou van een van sy soldate, wat besig was om te bad nie, asook die daaropvolgende gevolge.
 
Psalm 51 maak dit baie duidelik dat Dawid verstaan het dat hy ongehoorsaam was en sy sonde hom van God skei: "Moet my tog nie van U af wegdryf … (v13); hy weet hy het God se genade nodig (v3); skuld vreet hom op en hy vra die Here om hom te reinig: "Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!" (v4) Hy het sy blydskap en vreugde verloor (v10) en hy is bang dat God die Heilige Gees van hom sal wegneem: "Moet [nie] … u Heilige Gees van my af wegneem nie! (v13)
 
Dawid besef dat hy nie van sy sonde vrygeskeld gaan word net omdat hy die koning is nie en hy pleit boetvaardig dat God hom sal vergewe, sy gees sal hernu en hom sal herstel. Hy kom tot die besef dat God se genade seëvier wanneer daar waarlik berou is: "Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (v19)
 
Dawid is nie die enigste een wat 'n verkeerde keuse maak en dan in sonde verval nie. Ons weet ook dikwels nie wat ons in ons gedagtes kweek nie, met die gevolg dat ons soms 'n saak bevraagteken wanneer dit reeds te laat is.
 
Gebed: Vader, hernu my gees sodat ek my aptyt vir verkeerde dinge in toom kan hou en help my om "elke gedagte gevange [te neem] om dit aan Christus gehoorsaam te maak" (2 Korintiërs 10:5) en U te eer. Amen