Louise Gevers 

Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Openbaring 21:5-6, 2020-vertaling
 
Onlangs, net voor Kersfees op pad terug van 'n maanverligte Kerssangdiens, bespreek ons ons seerplekke wat rowe en bloukolle gelaat het. My kleindogter noem toe dat haar seerplek wat sy 'n paar weke gelede opgedoen het, nog baie seer is. Ek verseker haar toe dat ek vir Jesus sal vra om dit beter te maak waarop sy antwoord: "Gaan jy Hom bel?" Ek verduidelik toe dat ek nie 'n telefoon nodig het nie, want Hy is altyd by my en dat ek net my oë sal sluit en Hom vra om haar seerplek beter te maak. Sy maak toe onmiddellik haar ogies toe en vra Jesus om my seerplek gesond te maak.
 
My kleindogtertjie ken nie vir Jesus nie, maar sy ken my en sy het onmiddellik vertrou dat as ek met Hom kan praat en vra dat Hy haar moet help, sy ook met Hom kan praat en dan sal Hy my help. Daardie baie spesiale oomblik was net weer die bewys van die eenvoud en reinheid van 'n kinderhartjie en van kinderlike vertroue. Dit het my opnuut laat besef hoekom Jesus gesê het: "Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie." (Matteus 18:3) Kinders erken hulle behoeftes en vra vol vertroue om hulp.
 
Gedurende die afgelope twee jaar het ons almal ongekende beproewinge beleef wat baie se geloof geskud het. Om 'n krisis alleen te hanteer, is nie maklik nie, maar diegene wat op God vertrou, kan met enige hartseer of mislukkings na Hom gaan wanneer hulle geloof wankel. Hy is die Een "wat op die troon sit" en wat sê: "Kyk, Ek maak alles nuut." Ons kan Hom vertrou. Hy het reeds sy liefde vir die wêreld bewys en sy "woorde [wat] betroubaar en waar is", is vir ewig want Hy is "die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde". Ons Skepper beskik oor die volmaakte getuigskrif dat Hy ons volkome ken en dat Hy aan ons behoeftes kan voorsien.
 
Johannes, die skrywer van Openbaring, beskryf die nuwe hemel en die nuwe aarde as 'n plek waar "die dood nie meer [sal] wees nie; ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie". (Openbaring 21:4) Hierdeur bevestig hy ook Jesaja se profesie dat die dag sal kom dat "die Here, die trane van alle gesigte [sal] afvee". (Jesaja 25:8) Dit beloof Hy aan "Dié wat dors is" en Hy sê dat Hy hulle sal "laat drink uit die fontein van lewegewende water" (Openbaring 21:6) – God se gratis geskenk in Jesus, die Oorwinnaar.
 
Besef ons dat ons dors is? Drink ons daagliks van die lewegewende water wat slegs Jesus kan voorsien? Die begin van hierdie nuwe jaar is 'n goeie tyd om 'n rukkie stil te staan en, in die lig van al die probleme van verlede jaar, oor die stand van ons geloof na te dink. Miskien broei ons nog oor 'seerplekke' wat ons eintlik aan Jesus moet oorgee om ons vry te maak sodat ons met hernieude geloof en vertroue kan aangaan.
 
Om ou bagasie die nuwe jaar in te dra, gaan nie help om wonde te genees of nuut te kan begin nie. Om iets blywend te kan verander, is dit nodig om eerlik selfondersoek te doen. 

Gebed: Hemelse Vader, help my om my behoeftes te erken en om U te vertrou om in hierdie splinternuwe jaar deur Jesus vir my "alles nuut" te maak. Amen