Louise Gevers 

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek 'n pad maak, in die wildernis riviere. Die wilde diere sal My eer, … omdat Ek water in die woestyn, ja, riviere in die wildernis gee, om my uitverkore volk te laat drink. Die volk wat Ek vir my gevorm het – my lof sal hulle verkondig. Jesaja 43:19-21. 2020-vertaling
 
'n Nuwe jaar is 'n nuwe begin wat aan ons die geleentheid bied om oor te begin. Dit is 'n geleentheid wat gelowiges moet aangryp ten einde die siel te verkwik en in nuwe omstandighede in hulle verhouding met God te groei en floreer. God is 'n vrygewige en liefdevolle Vader wie se "… troue liefde … ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – …" (Klaagliedere 3:22-23)
 
Die tuin wat pas deur die sproeiers natgemaak is en wat in die sonlig glinster, getuig vir my hiervan. Alles lyk vars en lewendig en die klein voëltjies wip van tak tot tak en druk hulle bekkies diep in die oormaat van pers blomme, so anders as tydens die droogte van 'n paar jaar gelede toe die tuin verdor en uitgeput was. God het ons egter nie toe verwerp nie, inteendeel, Hy het daardie moeilike tyd gebruik om ons geloof te versterk.
 
Om aanhoudend oor al die probleme van die droogte na te dink eerder as om die pragtige tuin te geniet, of om voortdurend te fokus op die probleme wat met die pandemie geassosieer word eerder as om die beloftes aan te gryp wat God in hierdie nuwe jaar vir ons in die vooruitsig stel, sal dwaas wees.
 
Die Here sê deur Jesaja aan sy volk: "Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie." (Jesaja 43:18) Dit was nou die tyd vir hulle om 'n nuwe geloofstap te neem en te reageer op die Here se uitnodiging om op Hom alleen te vertrou. Sy plan was om iets nuut en wonderlik te doen – om "water in die woestyn, ja, riviere in die wildernis [te] gee". Dit was tyd vir hulle om alles te laat vaar en in pas met God te kom, om afstand te doen van alles wat hulle gedagtes en gees vertroebel, uitdagings aan hulle geloof stel en hulle energie uitput.
 
Deur water in die woestyn te voorsien om hulle dors te les, sou dit vir hulle moontlik wees om deur die wildernis te trek, een dag op 'n slag. Hulle moes egter ten volle aan boord wees, iets waaroor Jesus ons waarsku wanneer Hy oor die koms van sy Koninkryk praat – verloor ons fokus op Hom om ons te red, beteken dit ons sal alles verloor – iets wat die Israeliete reeds voorheen ondervind het. Jesus illustreer dit duidelik wanneer Hy sê: "Onthou Lot se vrou!" (Lukas 17:32)
 
'n Nuwe begin is nie altyd maklik nie, maar om op God wat ons behoeftes ken te fokus is van kardinale belang sodat ons, gevul met hoop, kan uitsien na stabiliteit en beantwoorde gebede. Die uitdaging van iets nuut, laat ons geloof herleef en anker ons dieper in Hom. Dit laat ons 'n nuwe loflied sing en plaas nuwe vertroue in ons harte.
 
Gebed: Genadige Vader, open asseblief my oë om die nuwe dinge wat U in ons tyd doen, te kan sien en aanvaar. Verfris deur u lewegewende Gees die woestyn in my hart sodat ek elke dag met blydskap en in pas met U kan leef. Amen