Louise Gevers 

Gelukkig is mense wie se krag in U lê! Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes: Trek hulle deur die Baka-vallei, maak hulle daarvan 'n landskap ryk aan fonteine; die vroeë reën maak dit selfs vol waterpoele. Hulle gaan van krag tot krag; elkeen verskyn voor God in Sion.
 
Een middag gaan haal ons ons baie opgewonde kleindogter om haar by ons huis op te pas terwyl haar ouers uit is. Ongeveer halfpad, vra sy tot ons verbasing: "Waarheen gaan Audie?" Hoe verder ons van haar huis af weggery het, hoe meer het Audie se begrip van haar nuwe bestemming vervaag aangesien ander dinge langs die pad haar aandag afgetrek het.
 
Gebeur dit nie soms met ons ook nie?
 
Ons begin ons reis aan die begin van 'n nuwe jaar entoesiasties en met die beste intensies, 'n nuwe ontdekkingsreis, onbewus van nuwe attraksies, slaggate en ander hindernisse wat ons kan vertraag en wat, as ons dit toelaat, ons in 'n ander rigting sal lei. Soos Christen, in Christen se reis na die ewigheid ("Pilgrim's Progress"), moet ons ook soms met wysheid ons pad herbeplan en behendig gefokus bly op ons bestemming.
 
Die psalmdigter wat vandag se psalm geskryf het, het ook hierdie probleem met afleidings ondervind. Hy smag so om in die tempel van die Here te wees in 'n tyd wat hierdie vreugde hom nie beskore is nie – dit was sy plig om by die koning te wees – dat hy almal beny wat daar kan wees, selfs die voëls wat hulle nessies daar maak want hulle is naby God en hy kan nie daar wees nie. Die feit dat ander 'n pelgrimstog na Jerusalem kon onderneem, het hom ook nie onmiddellik beter laat voel nie.
 
Tog, toe hy oor die situasie nadink, besef hy "dit gaan goed met mense wat hulle krag in [die Here] vind en graag na [sy] tempel toe gaan." (Psalm 84:6). Hulle is geseënd en vol blydskap en word nie deur die moeilike omstandighede onderweg geraak nie. Omdat hulle op die Here fokus, is hulle blydskap en toewyding voelbaar op hulle pelgrimstog na Jerusalem om Hom daar te eer en aanbid.
 
Die psalmdigter besef dat in stede dat die droeë laagte die pelgrims uitput en van hulle vreugde beroof, bring hulle teenwoordigheid daar God se seëninge, die vroeë reën maak dit vol waterpoele, wat hulle aanmoedig om selfs meer op Hom, as hulle Voorsiener, te vertrou. Niks kan hulle toewyding demp nie. Hulle leef om die Here te aanbid en naby Hom te bly.
 
Hulle ondervind dat "die Here God is [hulle] krag en [hulle] beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie." (Psalm 84:12, 1983-vertaling) Hulle gees is lewendig omdat hulle God werklik ken en Hom doelgerig volg. Hierdie insig help die psalmdigter om sy eie omstandighede met nuwe begrip te beskou. Hy begin om opnuut vir die koning te bid, hy is bemoedig om te volhard.
 
Help hierdie prentjie ons? Hoe toegewyd is ons om dit te doen waarvoor ons aan die begin van die nuwe jaar geroep is?
 
Mag ons op God fokus en Hy ons krag gee.
 

Gebed: Here, hoe "gelukkig is die volk wat uitroepe van vreugde ken, wat in die lig van u teenwoordigheid loop, … ! In u Naam juig hulle die hele dag, in u geregtigheid roem hulle." (Psalm 89:16-17) Help my om vanjaar met blydskap op U te fokus en my doel op aarde in U te hernu. Amen