Louise Gevers 

“Troos, troos my volk!” sê julle God. “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die Here 'n dubbele straf ontvang vir al haar sondes.” Jesaja 40:1-2, 2020-vertaling
 
En hier is ons nou in Advent, 'n seisoen van hoop, 'n nuwe seisoen. Die aftelling na Kersfees het begin en, terwyl ons wag, konsentreer ons op die rede hoekom ons hierdie seisoen herdenk. Hoekom kan ons nuwe hoop hê in hierdie tyd in ons geskiedenis waar ons almal diep deur Covid getref word en na verligting verlang?
 
Niemand geniet dit om van geliefdes geskei te wees en so abnormaal te leef nie. Ons wil graag hoor: "Julle lyding is verby. Verwyder julle maskers – die pandemie is verby! Geniet dit om weer te glimlag en julle gesigte vir die wêreld te wys terwyl julle weer vrylik met ander meng." Miskien was dit tot 'n sekere mate hoe die Israeliete in ballingskap gevoel het, weg van die troos van hulle vaderland en die waardes wat hulle na aan die hart gelê het.
 
God het hulle verstaan en Hy verstaan ons. Hoor in sy woorde aan Jesaja die teerheid en deernis vir sy volk in ballingskap. Die Here wil dat Jesaja hulle geestelik opbou en hulle verseker dat hulle steeds sy volk is en hulle daaraan herinner dat in dié demoraliserende tyd in hulle geskiedenis is dit "Hy wat vermoeides krag gee …" (Jesaja 40:29) en dat diegene "wie op die Here wag, herwin hulle krag" (Jesaja 40:31) selfs wanneer hulle alle hoop verloor het. Hy wou hê dat hulle opnuut op Hom moes fokus en nie op hulle slegte omstandighede nie. Hy gee om en gaan die slegte omstandighede beëindig. Hulle is vergewe en hulle harte kan met nuwe hoop gevul word.
 
God se liefde en genade vir sy kinders is onveranderlik en Hy het 'n plan vir hulle lewens. In sy wysheid sal Hy, wanneer die les geleer is, verligting bring. Sy kinders kan Hom daarvoor vertrou net soos hulle Hom vertrou dat die son elke dag sal opkom en weer sal sak. So herinner die seisoene wat gereeld verander ons aan sy sorg vir die wêreld en dat ons op sy onveranderlike aard kan staatmaak.
 
Kom ons laat val simbolies ons maskers in hierdie nuwe seisoen en fokus doelbewus op die Woord van God wat ons vertroos deur die Hoop wat Hy op 'n sterverligte nag na die wêreld laat kom het om so 'n nuwe era van lig en vervulling in te lui. Elke jaar, sedert daardie nag, wag die wêreld gevul met hoop om die seisoen van Advent te vier.
 
Kom ons wag saam, gevul met daardie hoop in hierdie tyd van Advent.
 
Gebed: Liefdevolle Vader, terwyl ons wag om Jesus se geboorte te vier, verwyder ons swaarmoedigheid en gee aan ons ontvanklike harte en open ons verstand sodat ons die wonder van hoop kan beleef en die troos van die nuwe begin wat Jesus se koms bring, kan waardeer. Amen