Louise Gevers 

'n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk. Jesaja 40:3, 2020-vertaling
 
Opwinding het toegeneem. Elke nuwe foto van elke nuwe aankoop wat ons van ons dogter oorsee ontvang het, was 'n bewys van die vordering met die voorbereidings vir die koms van hulle baba. Afwagting en liefde het hulle versigtige voorbereidings gedryf, en niks was te veel moeite om te verseker dat alles gereed sou wees nie. Van die anderkant van die wêreld het ons toegekyk en gewag en ook so goed as moontlik voorberei – daar is gebid, gebrei en planne gemaak.
 
Die aanloop tot 'n geleentheid is 'n opwindende tyd van afwagting. Ons is lief daarvoor om te koördineer en alles te organiseer om gereed te wees, niks word aan die toeval oorgelaat nie en geen steen word onaangeroer gelaat om die beste moontlike ondervinding te verseker nie. God wys die weg aan en deur Jesaja maak Hy dit duidelik dat alle struikelblokke uit die harte van sy kinders verwyder moes word om plek te maak vir belydenis van sonde ter voorbereiding van die verlossing wat Jesus sou bring.
 
Ons het nie besef watter impak die koms van 'n baba op ons gesin sou hê nie, maar nou, twee jaar later, weet ons dat die geboorte van daardie kindjie lewensveranderend was. 'n Nuwe hoofstuk vir ons gesin is begin wat al die voorbereidings die moeite werd gemaak het.
 
En tog, ons ondervinding verbleek in die lig van God se plan en sy voorbereidings vir die koms van sy Seun na hierdie wêreld wat die hele mensdom sou beïnvloed. Sal dit nie dwaas wees van ons om God se komplekse voorbereidings vir die geboorte van sy Seun te ignoreer of om die groot afwagting en betekenis van die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis mis te loop nie?
 
Daar word vir die eerste keer in Genesis, direk na die sondeval, oor Jesus geprofeteer. Gereelde verwysings na Hom en sy koms word regdeur die Ou Tetament deur die profete Miga, Jesaja, Sagaria, Moses, Maleagi, Jeremia en die Psalmdigters gemaak, en hierdie profesieë word in die Nuwe Testament vervul.
 
Ons voel die opwinding van Advent wanneer ons weer hierdie profesieë bekyk. Elkeen skilder 'n deel van die groter prentjie van God se liefde wat as 'n babatjie die wêreld binnegekom het, en in afwagting beleef ons die grootheid van sy alomteenwoordigheid.
 
Kom ons oordink met wysheid gedurende Advent God se waarheid dat Hy gekom het om die wêreld te red en wees bly in sy liefde. Kom voed jou siel terwyl ons wag om fees te vier omdat Hy gekom het. “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde." 

Gebed: Vader, in hierdie tydperk van Advent reinig ons harte van enige hindernisse of onverskillighede en help ons om goed voor te berei om die waarheid en vreugde van Kersfees te kan aanvaar. Amen