Deur Benescke Janse van Rensburg
 
In 2019 was Ronald Brown van Montagu in die Wes-Kaap op die punt om tot die Springbok sewesspan verkies te word. Die aanhoudende pyn in sy nek het egter al erger geword. Ná ’n doktersbesoek is hy met kanker gediagnoseer. Dit was ’n groot skok.
 
In die maande wat gevolg het, het Ronald weekliks vir chemoterapiesessies gegaan. Dit was intens. Binne 8 maande het hy 11kg verloor met die konstante onsekerheid of hy ooit weer sal kan rugby speel. Ronald het egter bly glo dat God by hom is – dat God hom raaksien.
 
Stadig maar seker kon Ronald weer begin oefen. Groot was die opgewondenheid toe hy in 2020 verkies word tot die Blitsbokspan wat in die Olimpiese Spele in Japan gaan deelneem het.
 
Ronald se loopbaan het bly groei. Soveel so dat hy die afgelope naweek tydens die Dubai sewesreeks se finaal nie net ’n driekuns in die wedstryd teen Amerika behaal het nie; hy is ook as Man van die Wedstryd aangewys.
 
Op die vraag hoe Ronald se kankerstryd hom as mens gevom het, het hy só geantwoord: “Dit het my geleer om geduldig te word. Ek het kom leer dat God se tydsberekening perfek is en al wat ons nodig het, is om Hom te vertrou.”
 
Ek wil die Novembermaand-reeks met dié boodskap afsluit: God sien ons raak. Hy weet wat ons benodig nog voordat ons dit vir Hom vra, maar Hy wil hê dat ons dit vir Hom moet vra omdat Hy ’n verhouding met ons elkeen begeer. Soms moet ons net soos Ronald leer om geduldig op Hom te wag.
 
In Hebreërs 4:13 lees ons: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. . .” Ook in Psalm 53:2 skryf die Psalmdigter: Van die hemel af kyk God die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra.” En dan in Jeremia 33:3 praat God self wanneer Hy sê: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord. . .”
 
God sien ons raak. Sy tydsberekening om ons situasie te verander is perfek. Mag ons aanhou om Hom daarvoor te vertrou. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my raaksien en dat U van my situasie weet. Help my om met ’n hart vol geloof op U te bly wag, wetende dat U tydsberekening vir ’n antwoord perfek is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien video van Ronald Brown se onderhoud:
o   Webwerf: www.benescke.co.za
 
·         TerugvoerDit is die einde van die November-reeks, God sien jou raak. Het jy die reeks geniet? Gee vir ons terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..