Deur Benescke Janse van Rensburg

Die vuuroond was kokend warm. Mense wat te naby daaraan gekom het, het gesterf.
 
In sy paleis het koning Nebukadnesar se gesig wit van woede geword. Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om voor sy goue beeld te buig. Hy het hulle nog een kans gegee: Buig en leef. Weier en sterf.
 
In Daniël 3:16 antwoord hulle: “Koning Nebukadnesar, ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
 
Wat ’n geloofstelling. Wat ’n standpunt om in te neem. Tog wonder ek wat deur hierdie mans se koppe gegaan het die oomblik toe hulle hoor dat die koning die opdrag gee dat die vuuroond sewe keer warmer gemaak moet word – en hulle sien dat mense voor die oond sterf. Was daar angs? Was hulle gespanne? Het hulle ooit getwyfel oor hulle besluit?
 
In ons lewens is daar ook van tyd tot tyd situasies wat dreig om ons te oorweldig. Ons bid vir die herstel van ’n huwelik, genesing van ’n siekte, finansiële herstel of ’n baba. En terwyl ons wag moet ons veg teen angs, spanning en soms selfs twyfel.
 
My vraag vandag: Sal jy God aanhou aanbid met ’n hart vol geloof as Hy nié jou gebede beantwoord nie?
 
Sadrag Mesag en Abednego het beleef dat God hulle in die oond ontmoet en beskerm. Nie ’n haar op hulle liggame het geskroei nie. Hulle geloof het daartoe gelei dat koning Nebukadnesar sy knie voor God gebuig het.
 
Ons “vuuroonde” is waar ons getoets word. Mag ons weet dat God stééds dieselfde God is wat Sadrag, Mesag en Abednego gered het. Sterkte.
 
Vader God baie dankie dat ek my geloof en vertroue in U kan plaas. Ek bring (noem die area) na U toe. Neem asseblief beheer en help my om sterk te staan terwyl ek wag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys. 

·         TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.