Deur Benescke Janse van Rensburg 

’n Paar jaar gelede het ons by die radiostasie waar ek werk besluit om ’n paar gesinne in nood oor Kerstyd met kruideniersware te verras.
 
Een van die gesinne was ’n enkelpa met drie kinders. Nadat die ma die gesin vir ’n ander man verruil het, het hy sy bes gedoen met sy karige salaris as sekuriteitswag om die gesin te onderhou. Die realiteit was dat hy nie beddens vir sy kinders kon koop nie. In die eenslaapkamerwoonstel het sy kinders op dubbelgevoude komberse op die vloer geslaap.
 
Ons moes help.
 
Te danke aan borge het ons beddens bymekaargekry, asook ’n groot klomp kruideniersware. Net voordat ons vertrek het om die gesin te gaan verras, het ’n organisasie wat jaarliks Kersgeskenke vir kinders bymekaarmaak ’n paar daarvan na die radio gebring wat ons kon uitgee soos ons goeddink. Ons het besluit om drie van hierdie toegedraaide geskenke vir die kinders saam te neem.
 
Met die aankondiging hoekom ons daar is, het die trane oor die pa se wange gevloei. Hy was stomgeslaan dat God mense kon stuur om hulle lot te verlig.
 
Die grootste oomblik vir my was egter toe die 6-jarige dogtertjie die geskenk oopmaak en verbaas na die pop in haar hande kyk. Sy het dit styf teen haar lyfie vasgedruk en aanhoudend gesê: “Sien, Hy het geantwoord!”
 
Wat ons nie geweet het nie, is dat die dogtertjie weke vantevore dié spesifieke pop op ’n televisie-advertensie gesien het. Sy het haar pa en ouma daarvoor gesmeek. Hulle kon dit nie bekostig nie. Elke aand het sy gebid dat God vir haar daardie pop sou gee. God het gehoor.
 
In Matteus 7: 7-11 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. . .  As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
 
God ken ons hartsbegeerte en Hy wil hê dat ons met Hom daaroor moet praat. Sy tyd vir ’n deurbraak en sy manier waarop dit geskied is altyd presies reg. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat U alles in my lewe raaksien en dat ek met U daaroor mag praat. Help my asseblief met (noem die uitdaging). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·     Sien foto van gesin
o    Webwerf: www.benescke.co.za
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..