Deur Benescke Janse van Rensburg 

Ek hou van stories waarin mense uit die boot moes klim om God te vertrou – en wanneer hulle doen, pluk hulle die vrugte daarvan. Ek deel graag só storie uit my boek, God is stééds God, van ’n plaaslike entrepreneur, Miné van Schalkwyk, van Hadassa Clothing.
 
In die kombuis het Miné gestaan en dink aan die mooi stuk materiaal wat sy gekoop het. Tot op hierdie punt het elke ontwerp wat sy daarmee probeer het, misluk. Uit desperasie het sy op haar gesig voor God gaan lê en gesmeek dat Hy haar sou lei om iets te ontwerp wat gaan werk – en wat vinnig sou verkoop.
 
Vir maande tot op hierdie punt het Miné beleef hoe God haar elke dag stap vir stap gelei het om haar besigheid op te bou en ook om kledingstukke te kon ontwerp met ’n geestelike boodskap waarmee sy vroue kon klee. Dít was die profetiese woord wat sy vroeër ontvang het – en wat sy kon sien in vervulling gaan. Die meeste dae was dit egter uitdagend en moes sy leer om God te vertrou wat haar lei.
 
Op die kombuisvloer het Miné gebid dat God die onsigbare betonmuur wat haar kreatiwiteit blok sou verwyder. Ook dat Hy haar sal lei. Terwyl sy op God gewag het, het sy twee dinge ervaar. Die eerste was ’n vraag: “So jy wil iets maak wat vinnig gaan verkoop?” Haar antwoord was dadelik “ja”. Die tweede was ’n opdrag: “Vat die lap en gaan maak ’n hoody.”
 
Miné was geskok. “Wie op dees aarde gaan ’n sweetpaktop koop?” wou sy amper hardop vra. Die oomblik toe sy egter gaan sit en teken, kon sy duidelik sien op watter gedeelte van die top die mooi blommateriaal vasgewerk moes word.
 
Nadat die tops voltooi is, het hulle ’n fotosessie vir bemarking gedoen. Die foto’s het só mooi uitgekom, dat Miné besluit het om een as lusmaker op hulle sosialemediabladsy te plaas om die reaksie te toets. Binne die volgende 24 uur ná die plasing is al die voorraad van die tops uitverkoop. “Ek was oorbluf,” vertel sy. “God is waarlik goed. Hy het my verwagting totaal oortref. Al wat Hy van ons vereis, is gehoorsaamheid.”
 
In Spreuke 3:5-6 lees ons: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Ook in Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
 
God is betrokke in die detail van ons lewens. Hy is die bron van alle kreatiwiteit. Mag ons bid wetende dat Hy elke gebed hoor – en kan verhoor.Sterkte.  
 
Vader God, baie dankie vir U goedheid in my lewe. Help my asseblief om gehoorsaam te bly in elke situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien foto van Mine se tops:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..