Vers n dag - 2 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 19: BEGIN NUUT. . . MET ’n FOKUS OP GOD – EN NIE VREES NIE
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: Ná Dag 12 se gedeelte getiteld: BEGIN NUUT…SONDER VREES het ek heelwat e-posse van lesers gekry wat my vertel het dat hulle met vrees in hulle lewens sukkel. Vandag vertel ek jou hoekom ons vrees uit ons lewe moet probeer hou.]
Het jy al ’n boksgeveg of ’n tenniswedstryd dopgehou? Terwyl die wedstryde vir iemand met geen kennis van sport mag lyk na twee boksers wat bloot vir ’n vale rondtrippel en net nou en dan ’n hou inkry of na twee tennisspelers wat slegs die bal oor die net probeer moker, is beide sportsoorte uiters strategies. Opponente is konstant besig om mekaar te ontleed en swak punte te identifiseer sodat hulle mekaar makliker kan uitoorlê.
Satan is ons vyand. In 1 Petrus 5:8 lees ons dat hy daagliks soos ’n brullende leeu rondloop en soek na maniere om ons aan te val. Job is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hy het ’n mooi huis gehad, ’n klomp besittings, ’n string kinders en by alles ’n wonderlike verhouding met God. Satan het niks daarvan gehou nie. Wat hom veral frustreer het, was dat sy aanvalle op Job nie gewerk het nie omdat God ’n muur van beskerming rondom hom, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10 – 1953-vertaling).
Job het egter een groot swak punt gehad: Vrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Satan het dit gesien en toe hy ’n geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom geslaan waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”
Watter vrese koester jy in jou lewe? Is jy uitermatig bang dat jou kinders iets sal oorkom of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou sal wees? Of dalk dat jy en jou gesin in ’n motorongeluk betrokke gaan wees of dat jou besigheid bankrot verklaar gaan word? Besef jy dat die vyand sy ore spits?
In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Ook in Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie... Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg…”
Wanneer ons toelaat dat vrees in ons lewens groter word as ons geloof in God, word ons ’n oop teiken vir die vyand. Behou dus jou fokus. Trek aan jou bokshandskoene terwyl jy jouself (en ook die vyand) herinner dat God die laaste sê in elke situasie het. En wanneer Hy ’n muur van beskerming rondom jou geliefdes en besittings plaas, kan geen brandpyle van die vyand jou raak nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart na U kan bring. Lei my asseblief daagliks deur u Heilige Gees om met groter geloof vreesloos te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Boekbekendstelling: Benescke se boek, Wysheid, oordenkings uit Spreuke word amptelik bekendgestel op Saterdag, 25 Februarie 2012 by die Bellville Wes-Kerksaal. Vir meer inligting, kontak Karin at 021 949 7419 or