Vers n dag - 1 Februarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 18: BEGIN NUUT… MET VREDE IN JOU HART
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Was jy al ooit op ’n Saterdagmiddag tydens ’n belangrike rugbywedstryd noodgedwonge op pad na ’n ander funksie? In sulke tye word die radio gewoonlik onmiddellik aangeskakel om die wedstryd via die radiokommentator te volg. Gestel nou, net soos die spannende wedstryd sy einde nader, hoor jy skielik: “Gggggg....” ’n Seinonderbreking omdat jy tussen die klowe deurry! Frustrerend, nie waar nie? Veral as die radio se sein herstel die oomblik dat die wedstryd verby is en jy die finale telling misgeloop het!
Die vrede en harmonie in ons lewens kan met hierdie radiosein vergelyk word. Soms ervaar ons ’n rustigheid en vrede in ons gemoed terwyl ons die stem van die Heilige Gees duidelik aan ons binneste hoor. Ander kere, wanneer ons in vrees leef of sonde ’n houvas op ons lewens begin kry, beleef ons hoe ’n onrustigheid ons binneste vul en hoe ons skielik sukkel om die stem van die Heilige Gees te hoor – asof ons ’n “seinonderbreking” beleef.
Die vyand se doelwit is om ons vrede te steel. Hoekom? Omdat hy weet dat ons sonder vrede sukkel om besluite te neem, makliker geïrriteerd raak en by alles ons geliefdes met ons houding van ons wegstoot eerder as om hulle nader na ons toe te trek.
Hoe steel die vyand jou vrede? Hy plaas ’n stadige bestuurder voor jou in die verkeer en jy verloor jou humeur. Hy plaas ’n gedagte in jou kop dat van jou kollegas van jou skinder (terwyl jy reeds sukkel met verwerping). Hy laat jou onnodig stres oor jou kind se veiligheid. Of hy oortuig jou dat jy nooit jou skuld sal kan afbetaal nie. Die vyand se doel is om die harmonie en “sein” met die Heilige Gees te versteur en jou fokus wég van God te trek en op jou vrese en bekommernisse te plaas.
Hoe herstel jy hierdie vrede in jou lewe? Die maklikste is om Paulus se raad in Filippense 4:6-7 te volg: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ervaar jy tans vrede in jou hart of sit jy met ’n onverklaarbare hol kol op jou maag? Kies om jou sonde voor God te bely. Kies om weg te kyk van jou vrese en jou fokus op Hom te plaas. Net Hy kan jou vrede herstel, jou help om weer die Heilige Gees se stem duidelik te hoor en ook aan jou vrede gee wat alle verstand te bowe gaan! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek met elke bekommernis in my hart na U mag kom. Ek plaas vandag (noem jou bekommernis) by die kruis neer. Plaas asseblief weer daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan terug in my hart. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.