Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 31 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 17: BEGIN NUUT… OM JOU GELIEFDES TE MOTIVEER

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Van jongs af was Robert ’n uitblinker op die sportveld. Dit was dus geen verrassing toe hy na skool as lid van ’n professionele voetbalspan gekies is nie. Hoewel sy lewe perfek gelyk het omdat hy gereeld vir foto’s moes poseer of handtekeninge aan aanhangers moes uitdeel, het Robert net een begeerte gehad: om uit sy pa se mond te hoor dat hy hom liefhet en aanvaar.  

Robert se pa se drankverslawing het veroorsaak at hulle ’n gebroke verhouding gehad het. En hoewel hy begeer het dat sy pa ten minste een van sy voetbalwedstryde sou bywoon of daar wou wees om hom, soos vele ander spelers se pa’s, ná ’n slegte wedstryd te bemoedig, het dit nooit gebeur nie.

Ná sy loopbaan, het Robert ervaar dat God hom na die voltydse bediening roep. Hy het by die kweekskool aangesluit, sy opleiding voltooi en saam met sy pragtige vrou ’n baie suksesvolle gemeente begin bou. Steeds het hy en sy pa nie ’n verhouding gehad nie.

Die skielike nuus dat sy pa na ’n hartaanval op sterwe gelê het, het Robert geruk. Hy het hom na die hospitaal gehaas. Toe hy in die noodeenheid instap was sy baie swak en duidelik gedisoriënteerd. Vir ’n oomblik het hy Robert met die dokter verwar. Met ’n swak hand het hy aan Robert se arm gevat en in ’n fluisterstem gepraat: “Haai dokter, het ek jou al van my seun, Robert vertel? Ek is só trots op hom. Hy is nie net ’n briljante voetbalspeler nie. Hy is nou ook ’n predikant van ’n groot gemeente. Dokter, ek wens jy kan my seun ontmoet. Ek is seker jy sal baie van hom hou.”

Dáár langs die hospitaalbed het Robert vir die eerste keer in 35 jaar die woorde gehoor wat hy met sy hele wese begeer het. Eers later sou hy uitvind dat sy pa by elke voetbalwedstryd was, maar op ’n afstand op die agterste paviljoen gestaan het omdat hy skaam was vir sy reputasie as “dronkie” en nie Robert se beeld wou beskadig nie.

Wanneer laas het jy vir die mense in jou lewe vertel dat jy hulle liefhet en waardeer? Besef jy dat al stel jou aardse ouers jou teleur, jou Hemelse Pa dit nooit sal doen nie? Luister maar na die woorde in 1 Johannes 4:7: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

Moenie 35 jaar lank wag totdat jy jou geliefdes vertel dat jy hulle liefhet nie. Doen dit vandag! Môre mag dalk net te laat wees! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat dat U my gemaak het soos ek is en dat U my altyd liefhet. Help my om nooit na te laat om vir diegene in my lewe te bewys dat ek hulle liefhet nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 1 Februarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 30 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.