Carina Francke 

“Aan My is alle mag (outoriteit) gegee in die hemel en op aarde.” Matteus 28:19, 1983-vertaling
 
Ongesteurd deur die goed beskermende gevegsuitrusting en wapens van Goliat, die Filistynse baasvegter, aanvaar die jong seun Dawid van Israel, die neerhalende gevegsuitdaging van Goliat, 'n drie meter lange Filistynse baasvegter. Met net sy veewagtersklere, sy kierie, vyf klippies en slingervel, tree hy aan vir die geveg. Dawid se reaksie op Goliat se gespot en gevloek, was 'n kragtige verklaring van wie aan sy kant is: “… ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, …” (1 Samuel 17:45, 1983-vertaling). Dawid weet: God se Naam is outoriteit. Die geveg behoort reeds aan die Here; Hy sal die vyand oorgee in sy mag, en so sal die hele wêreld besef dat Israel 'n God het.
 
Die outoriteit in God se Naam sal tot in ewigheid, nooit verander nie. Kort voor sy kruisiging, vestig Jesus die dissipels se aandag op die vertrouensverhouding wat na sy opstanding tussen die Vader en gelowiges tot stand sal kom – direkte toegang in sy Naam: “Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:23b-24, 1983-vertaling) Jesus, ons Hoëpriester het 'n pad vir elke mens oopgebloei tot in die troonkamer van die enige God. Sy opwekking uit die dood het ook die mag van die dood verslind – Jesus hou nou die sleutels van die dood en van die doderyk! (Openbaring 1:18) Daarom kan net Hy sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” (Matteus 28:18, 1983-vertaling)
 
En hierdie waarheid liewe leser, bemagtig elke gelowige om met die leiding van die Heilige Gees, Jesus se Groot Opdrag uit te voer. Met die volmag van sy Vader, gee Jesus die “Gaan Vertel”aflosstokkie ooraan Christus gelowiges. Wat jou en my insluit. Ons opdrag? Maak van alle nasies dissipels: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het.” (Matteus 28:19) As die Mag- en Outoriteitsbron, waarborg Hy sy teenwoordigheid: ”Ek is by julle tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20, 1983-vertaling)
 
Stem jy saam dat elke naam van die Godheid, onuitwisbaar in Goddelike dade uitgekerf is? Hy is sy Name. Hy is sy werke. Hy is sy beloftes. Hy is wie Hy sê Hy is. Moet daarom nie wroeg of vrees dat jou geloof op papierfondasies gebou is, of dat die beloftes van die Woord in waaisand geskryf is nie. Die Godheid is die Ewige Waarheid en kan nie lieg nie.
 
Dawid het geglo en bely dat God is wie Hy sê Hy is, en het vanuit hierdie wete elke Goliat in sy lewe in hierdie Naam weerstaan of aangeval. Die vraag is net, in wie se naam probeer jy die vyand aanvat of weerstaan? Bied jy hoegenaamd weerstand?
 
Gebed: Hemelse Vader, u Naam verteenwoordig u outoriteit. Stel my in staat om in u kragtige Naam, 'n waardige, effektiewe en getroue “Gaan” werker vir die koninkryk te wees. Amen