Carina Francke 

“U is waardig om die boek te neem en seëls daarvan oop te maak, omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.Openbaring 5:9-10, 1983-vertaling (Lees ook: Openbaring 4 & 15:2-4)
 
In hierdie Oktober reeks van Vers-'n-dag, het ons gesels oor die name van die Godheid en ook hoe dit die gelowige se lewen persoonlik raak. Ek vertrou dit het ook jou geestelike verstaan van wie Hy waarlik is, tot dieper insig gebring.
 
Hierdie laaste dagstuk het ten doel om die onbeskryflike grootheid van die wonderbare en superieure Almagtige, met betekenisgelaaide lofwoorde te besing. Maar my ongeoefende tong bly steeks. Dan tree die Woord tussenbeide en breek die woorde van die Loflied aan die Lam in my gees oop. “U is waardig om die boek te neem en seëls daarvan oop te maak, omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” (Openbaring 5:9-10, 1983-vertaling)
 
Het ek my verbeel, of het 'n engelekoor, die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens ingeval en my onbeholpe geneurie van 'n loflied, laat groei tot 'n opregte eenmens lofcrescendo aan die Lam van God? Aan Hom kom immers toe al die lof en al die eer!
 
Die lied van Moses, ook die lied van die Lam (Openbaring 15:2-4, 1983-vertaling):
“Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelswyse regverdig is.”
 
Hierdie lied besing die onkreukbare reputasie van die Here God, Almagtig. Weliswaar sal slegs die oorwinnaars oor die dier, sy beeld en die getal van sy Naam, onder begeleiding van siters van God, hierdie lied mag sing. Intussen kan ons hierdie lied skaamteloos napraat en die Here God, Almagtig daarmee verheerlik.
 
Die hemelwesens en ouderlinge bring eer, dank, heerlikheid aan God (Openbaring 4):
Die apostel Johannes betree die hemel op uitnodiging van “Iemand” (God) wat op 'n troon sit. Die doel? God wil aan hom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Geen wonder nie, dat hy opmerksaam alles rondom hom waarneem. Veral die hemelwesens en ouderlinge word fyn dopgehou.
 
Sy ore is gespits vir die lofuitroepe wat die vier lewende wesens, sonder om te rus, dag en nag na die troon bring:“Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”(Openbaring 4:8) Dan kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom in aanbidding, sit hulle krone voor die troon neer en sê: Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.” (Openbaring 4:11)
 
Liewe leser, fokus jy gereeld op die grootheid van ons Here God? Gee jy aan Hom die eer wat Hom toekom? Indien nie, waarom nie sommer vandag begin nie?
 
Gebed: Hemelse Vader, ons is nog nie by U in die nuwe hemel en aarde nie, maar help ons om in die hier en nou, reeds die mooi, die volmaakte, asook die vrede uit u hand, na te jaag. Amen