Carina Francke 

"Ek is die Alfa en Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” Openbaring 22:13, 1983-vertaling
 
“Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Openbaring 1:17b-18, 1933/1953-vertaling
 
Die jaar 2021. Opstandiges brand, skiet en vandaliseer, polisiewapens beland in die verkeerde hande, skuld hoop op en kospakkies vir behoeftiges kry voete deur gryphande wat dit misbruik. Talle mense verloor hul werk, besighede maak deure toe en ander verryk hulleself ten koste van hul medemens. En dan is daar die “Dit” – daardie onsigbare virus wat jou asem kom steel, jou energie dreineer, jou grendel aan 'n longmasjien en talle laat sterf. En dit ongelukkig regkry om onsekerheid en veral vrees in mense se lewens te ontketen.
 
Vrees is 'n emosie wat deel is van ons samestelling/aard en speel homself gewoonlik uit in 'n vlug- of vegrespons. Veral as die gebeure wat dit sneller, vreemd, bedreigend en onbekend is. Dink aan die apostel Johannes wat tweekeer op die eiland Patmos aangespreek word met 'n kragtige stem soos van 'n basuin of trompet: “Ek is die Alfa en Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek…”(Openbaring1:10-11) Die onbeskryflike heerlikheid en glorie van die “Een soos die Seun van die mens” wat met hom praat, was so oorweldigend dat hy soos 'n dooie voor sy voete neerslaan. (Openbaring 1:17)
 
Jesus se reaksie op hierdie emosie is vertroostend – Hy sit sy regterhand op Johannes se skouer en herinner hom voor wie hy op daardie oomblik staan: “Moenie vrees nie; Ek is eerste en die laaste en die lewende.”(Openbaring 1:18) Omdat Hy egter die mens se neiging tot twyfel ken, ruim Jesus enige onsekerheid uit die weg:”… en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen.” En dan slaan Hy die laaste spyker in die vrees en twyfel doodkis: “… en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”
 
Lees jy raak wat Jesus ook vir jou en my in hierdie onseker tye kommunikeer? Eerstens, ons is nooit alleen in tye van beproewing nie. Jesus, ons Oorwinaar oor die dood, was in ons gister by ons lewens betrokke, bekragtig ons in die hier en nou met sy ondersteunende hand op ons skouers, en staan reeds slaggereed vir enige gebeurlikheid in ons toekoms. Hy is voorwaar wie Hy sê Hy is: “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”(Openbaring 22:13) Hy bestaan “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd.”
 
“Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.” (Jesaja 41:4, 1983-vertaling
 
En dan die bevrydende nuus oor sy almag: Ons hoef nie die dood te vrees nie; Jesus het die dood oorwin en hou die sleutel van die dood en die doderyk! Amen! Ons lewe! Ons gaan ewig lewe!
 
Gebed: Dankie, dankie Hemelse Vader dat ons nie meer in vrees hoef te leef nie! Met my hande hemelwaarts gelig, sing my hart 'n jubellied vir die onveranderlike gister, vandag en ewige môre wat u teenwoordigheid, asook dié van Jesus, in ons lewens vasknoop. Amen.