Carina Francke 

“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”  Johannes 10:9,11, 1983-vertaling
 
Onlangs sien ek 'n video van 'n trop brandsiek skape in die veld wat blêrend teen mekaar staan. Ander het gaan lê, te swak om self hul koppe op te lig. Geen water of kos in sig nie. 'n Nabyskoot van die kamera wys siek en gewonde diere. Droë bebloede wonde – moontlik die gevolg van roofdieraanvalle – is oop en onversorg. Wolklosse koek oral aan die verwaarloosde lywe vas. Geen herder of veewagter is êrens te sien nie.
 
Die Woord vertel sonder doekies omdraai dat die Vader, Jesus Christus en die profete soortgelyke gebeure gereeld moes aanspreek. Geen wonder dat die skaap- en herder metafoor so gereeld in die Woord raakgelees kan word nie. Die Vader het dit veral teen slegte herders wat die skape in die steek laat (Sagaria 11:17), hulle laat dwaal (Jeremia 50:6) en nie versorg nie (Jeremia 23:2). Die volk Israel was soos skape wat rondgedwaal het sonder 'n herder. Hulle leiers was soms mense wat die vettigheid van die land net vir hulleself wou hou – ten koste van die kudde lammers en skape wat wegkwyn en uitteer en deur wilde diere verskeur word. Niemand kon (of wou) die skape op die regte pad lei nie. Byna dieselfde scenario wat hom vandag in ons gebroke en stukkende wêreld afspeel.
 
Jou en my hoop lê egter nie in aardse herders/leiers nie. Nee, ons hoop is in Hom wat verklaar het: “Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou. … Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.” (Esegiël 34:15,16b, 1983-vertaling) Verstaan jy wat hier gebeur? God is bereid om Self ons Herder te wees! Hy soek die weggedwaaldes, red hulle, maak hulle bymekaar en bring hulle terug. En jou en my verantwoordelikheid? Ons moet net reageer op sy goddelike liefde.
 
Hoe kan ons dan anders as Jesus hierdie openbaarmaking oor Homself gee? “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Johannes 10:9,11, 1983-vertaling)
 
Wie het dit bewerkstellig? “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.” (Hebreërs 13:20) sodat ek en jy deel van sy kudde kon word en toegang kon kry tot die lewe en sy spens van seëninge.
 
Gebed: Vader, ek verklaar en aanvaar dat u herderskap oor my lewe, my sal toerus met alles wat goed is, sodat ek u wil kan gehoorsaam. Amen