Carina Francke 

“Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal ...”  1 Timótheüs 2:5-6a, 1933/1953-vertaling
 
Job het die meedoënlose aanslag van Satan op sy familie, sy eiendom, vee en sy eie gesondheid, toegeskryf aan God wat hom straf. Job worstel. Dit sou hom nie help om 'n regsaak aanhangig te maak nie. Die wysheid en krag van God is te groot – Hy wat Job is, sal nie 'n enkele vraag kan verdedig of beantwoord nie. (Job 9:1-4)
 
Job wens hardop vir iemand; 'n arbiter of 'n middelaar wat onpartydig sal optree tussen hom op die aarde, en God in die hemel. Iemand wat hom en God bymekaar kan bring om verskille uit die weg te ruim. Slegs dan sou hy sonder vrees kan praat. (Job 9:33-35) Job in sy persoon, se kanse is maar skraal, want God is die heilige Almagtige! Hy weet dat geen mens 'n saak teen God kan wen, of selfs gelykop daaruit kom nie. Waarom dan nie?
 
Sonde. Ons sonde. Die kloof wat ons vir ewig van God skei. Net 'n hangbrug kon hierdie skeidingskloof oorbrug. In die persoon van sy enigste Seun, Jesus Christus, wat aan die kruis sterf, voorsien God Self die gepaste hangbrug. Hoor jy? Jesus is vandag steeds die enigste hangbrug wat jou, my en elke mens oor die kloof laat loop om veilig by God uit te kom. Jesus word die regverdige Middelaar tussen God en mens. En die prys van die bemiddeling? “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”
 
Jesus Christus is daarom die enigste Middelaar wat 'n regverdige verhoor waarborg. “…daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal...” (1 Timótheüs 2:5-6a, 1933/1953-vertaling). Jesus, God se Seun, wat mens geword het, het sonde vir ons geword deur aan die kruis vir ons oortredinge 'n bloedige dood te sterf. Net Hy, as sondelose mens, kon die onpartydige Middelaar word om die afgrond te oorbrug. Hy alleen was waardig genoeg om hemel (God) en aarde (mens) te versoen.
 
Die vraag is net, het jy al die “versoening met God", wat deur Jesus aan die kruis bewerk is, aanvaar? (2 Korintiërs 5:20, 1983-vertaling) Jy sien, die Middelaar is nie net vir een nie, maar God is een. (Galasiërs 3:20, 1983-vertaling) As daar dus net een party is wat handel, is die Middelaar, Jesus Christus se reddingshande vasgebind.
 
Job het gesug na iemand wat God se straf van hom kon wegneem. Jy hoef nie meer oor daardie kwessie te sug nie. Nooi die Middelaar, Jesus Christus, jou lewe in en word so versoen met God.
 
Gebed: Vader, baie dankie dat ons Middelaar, Jesus Christus, sy lewe gegee het sodat ek kan leef! Halleluja! Amen