Carina Francke 

Jesus het vir hom gesê: ”Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Johannes 14:6, 1983-vertaling
 
Tydens ‘n eetgeleentheid kondig die hartmens van ons vriendekring aan dat hy binnekort na die buiteland verhuis. “Om wat te gaan doen? Is jy van jou sinne beroof? Is jy nou ook ‘n droster?” was maar enkele van die vrae waarmee hy gebombardeer was. Genadiglik is hierdie gemoedelike, maar potensiële plofbare gesprek, in vrede beredder.
 
Jesus breek soortgelyke skokkende nuus met sy dissipels om die etenstafel. Maar nie voordat Hy hulle bemoedig nie: hulle moenie ontsteld (bevrees, opgewerk, geroer)wees nie, en hulle moet in God en in Hom (Jesus) glo. (Johannes 14:1). Dit is asof Hy vir hulle wil sê dat hulle voor die ontstellende nuus in Hom geglo het, waarom nou twyfel of ophou glo?
 
Sy nuus behels dat Hy weggaan na ‘n “Geen Toegang” area. Die doel van sy reis? Hy gaan ‘n plek vir hulle regkry en sal daarna terugkom om hulle te kom haal om by Hom te wees. Sy woorde: “julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan,”(Johannes 14:4) maak hulle onseker. Soveel so, dat Tomas se wenkbroue ‘n vraagfrons trek – hy en die ander manne weet rêrig nie!
 
Jesus lig die sluier: ”Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”(Johannes 14:6) Verstaan jy die omvang van wat Jesus hier sê? Sonder geloof in Hom, Jesus, het niemand toegang tot die Vader nie. Sonder Jesus in jou lewe, kan jy God ook nooit waarlik ken nie!
 
Kom ons loer na die betekenis van elk van die drie komponente van Jesus se Naam.
 
Die Weg Deesdae klim jy in jou motor en vat die pad na enige nuwe bestemming. Ons geestelike reis na die ewige lewe by God, vereis ook ‘n pad (weg) om daar uit te kom. Jesus Christus is daardie weg, die brug wat die kloof tussen sondige menslikheid en heilige goddelikheid oorbrug. Onthou egter: geen beweging, geen vordering nie. “Maar ek ken nie die pad nie!” maak jy verskoning. Rêrig? Jesus is dan jou reisgenoot en kompas om jou veilig by jou bestemming te bring. Sy Gees en sy woord ook: “..jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”(Jesaja 30:21, 1933/1953-vertaling) Die vraag is net, as jy hoor, luister jy en doen dan?
 
Jesus is die Waarheid van God wat vrymaak (Johannes 14:6). Hy is die bron en leermeester van waarheid (Markus 12:14) en is die realisering van al God se beloftes. Merril Tenney definieer waarheid as die realiteit en die etiek wat in ‘n persoon uitdrukking vind. (His Name is Wonderful CR Swindoll p89). Waarheid moet dus geleef word, ook deur jou. Volg Jesus, die Messias, die Een wat volkome aan waarheid uitdrukking gee.
 
Christus as die Lewe Die Seun van die mens is die bron van ewige lewe (Johannes 6:27). Hy verbind sy goddelike lewe aan ons s’n – nou en tot in ewigheid. Hy is die waarheid oor God en die lewe van God self (very life of God). Sonder die Lewe is daar geen lewe nie.
 
Gebed: My Vader, dankie dat Jesus vir gebroke en soekende mense, die weg, waarheid en lewe is. Maak ons geesore oop om u stem al duideliker te hoor. Amen