Carina Francke 

”Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: Ons het die Messias gekry! Messias beteken Christus.” Johannes 1:41, 1983-vertaling
 
”Die vrou het vir Hom gesê:”Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Johannes 4:25-26, 1983-vertaling
 
Gedurende die Kersgety hoor ons byna oral die gesalfde en geseënde Halleluja refrein van Handel se Messias. Die onvergelykbare grootheid van Jesus Christus, die Messias, word deur meesterlike musiek en sang uitbasuin. Tog is dit vreemd dat sou jy mense vra wat die titel Messias beteken, is daar min wat weet. Is jy bekend daarmee?
 
Die gebruik in Israel was om persone wat die Here in 'n amp dien, (konings, priesters en profete) seremonieel te salf/te smeer (mashach) met 'n spesiale olie. So is Dawid deur Samuel in opdrag van God gesalf as die nuwe koning oor Israel. Salfolie is oor sy kop uitgegooi en van daardie dag af was die Gees van die Here, vaardig oor Dawid. (1 Samuel 16:13)
 
Josef noem in opdrag van God, die Seun aan wie Maria geboorte sou skenk, Jesus, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:21) Waar pas die naam Messias en Christus hier in? In der waarheid is dit 'n titel wat aan Jesus toegeken is. Albei hierdie name beteken die Gesalfde”. As ons dus praat van Jesus Christus of van Jesus Messias, dan verwys ons na “die Gesalfde” – die Een wat gekom het om bekering en vergifnis aan die mens te bring. (Handelinge 5:31)
 
Jesus is ook gesalf voordat Hy met sy bediening kon begin. Tydens sy doop het die hemel oopgegaan en die Heilige Gees het in sigbare gestalte soos van 'n duif op Hom neergedaal en gebly. 'n Stem uit die hemel maak 'n verklaring: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek my.” (Lukas 3:21-22) Vol van die Heilige Gees, word Hy woestyn-in gelei waar hy 40 dae deur die duiwel versoek is. (Lukas 4:1-12) Met sy terugkeer staan Hy in die sinagoge en verklaar sy mandaat: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy my gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig”, ook vrylating vir gevangenes, herstel vir blindes, vryheid vir onderdruktes en aankondiging van die genadejaar van die Here. (Lukas 4:18-19)
 
Hoor jy wat hier gesê word? Die Here, God Self, het Jesus gesalf met die Gees! Hy kan sy werk as die Messias met gesag en outoriteit uitvoer. Geen godsdienstige, wettiese leier of bose mag kan ooit 'n stokkie daarvoor steek nie!
 
Handel, die komponis van Die Messias, het iets van die Messias se grootheid in sy gees beleef terwyl hy gekomponeer het. Na die tyd erken hy in trane aan sy dienskneg: “Of ek in my liggaam of buite my liggaam was terwyl ek Die Messias getoonset het, weet ek nie.” Aan sy seunskoor sê hy: “Ek het gedink dat ek die Hemel voor my gesien het, en die groot God self!”
 
Gebed: Vader, dankie dat Jesus vir sandkorrel mense, die Gesalfde, die Messias geword het. Die vervulling van God se beloofde Verlosser. Alle lof en eer aan U! Amen