Carina Francke 

Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe:”Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Johannes 1:29, 1983-vertaling
 
As kind het ek 'n paar keer gesien hoe my Dad skaap slag. Om my nie uit te sluit van hierdie “gee van 'n lewe om te kan lewe” nie, het ek maar die skaap se pote vasgehou en vermy om keelkant-toe te kyk. Dit was eers as daar geen reflekse meer was nie, dat ek myself kon kry om na die dier te kyk. Met gemengde gevoelens van verlies en dankbaarheid vir sy lewensoffer sodat ons voordeel daaruit kan trek.
 
Wat my bring by Jesus Christus, die Lam en Seun van God, wat moes dood sodat dwaalskape soos ek, jy en die ganse mensdom, die dood, weg van God, kon vryspring. Johannes wat besig was om te doop, toe hy Jesus sien wat op pad is na hom toe. Hy roep: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29)
 
Hoe het Johannes dit geweet? God het by 'n vroeëre geleentheid aan hom gesê dat die Een op wie hy die Gees sien kom en bly, die Gesalfde Een is wat met die Heilige Gees doop. (Johannes 1:33) En dit is presies wat gebeur het toe Jesus deur Johannes gedoop is. G’n wonder nie, dat hy met oortuiging kan sê: “Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.” (Johannes 1:34)
 
Sien jy die verbintenis? Die Seun van God is ook die Lam van God. Hy was bereid om sy lewe aan die vloekhout af te lê sodat ons, “wat almal gedwaal het soos skape en ons eie pad geloop het, bevry kon word.” (Jesaja 53:6) Van Jesus, die Paaslam word gesê: ”Soos 'n lam wat na die slagpale toe gelei word en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.” (Jesaja 53:7)
 
Besef jy wat plaasgevind het? Die mens het verlore geraak as gevolg van sonde. Die kosbare bloed van Jesus Christus, die vlekkelose Lam sonder enige liggaamsgebrek, was die prys wat my, jou en elke mens op aarde losgekoop het. (1 Petrus 1:19) Ons “transaksie” met God is daarom nie 'n goud-en-silwer ekonomie nie; dit is 'n lewe-en-dood ekonomie. Ek verruil my lewe-in-die-dood, vir 'n lewe-in-die-Lewe. Die bloed van die Lam van God is 'n Goddelike, waardige prys en voorsien 'n onverganklike verbintenis tussen God en mens.
 
En eendag, indien my en jou name in die boek van die lewe, die boek van die Lam, opgeskryf staan, sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien. (Openbaring 21:27) En ek is seker, ons sal op ons knieë neerval en Hom aanbid!
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die Lamoffer wat my sondepad uitgevee het. In my strewe om my nuwe lewe aan U te wy, is ek afhanklik van U, die Leidsman van my lewe. Amen.