Carina Francke 

“Die volk wat in duisternis woon, het 'n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin preek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Matteus 4:16-17, 1983
 
Na die opsluiting van Johannes, gaan Jesus na Galilea ("waar die heidene woon" Matteus 4:15) en vestig Hom in Kapernaum by die see – die gebied van Sebulon en Naftali, twee stamme van Israel. Sy verkondiging van die evangelie van God aan die Jode, asook die nie-Jode (die wêreld), begin hier. Sy boodskap is eenvoudig: ”Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 4:17)
 
Jesus se lering en prediking was nie beperk tot 'n sinagoge of tempels nie. Die ope lug, 'n boot, berg, tuin of huis, was sy preekstoel. Sy beeldspraak en gelykenisse breek waarhede oop in toehoorders se hart en gees. Hy spreek verhoudinge, lewenswaardes, die mens se leefstyl en -wyse aan. Lees gerus self die Bergrede oor Jesus se gesagvolle verkondiging van God se wil. (Matteus 5-7)
 
Genesings en wonderwerke was sinoniem met Jesus se bediening. Hy verander water in wyn, vermeerder brood en vis, laat 'n woeste seestorm gaan lê. Hy wek 'n dogtertjie uit die dood op; genees 'n vrou van bloedvloeiing, gee aan blindes hulle sig terug, genees melaatses, gee lewe aan verlamde bene en … en… Wat was sy geheim, behalwe dat Hy Jesus, die Verlosser, Seun van God, is? Lukas 5:16: “Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om te bid.” Maar die volle eer kom sy Bron van krag toe: “… die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak.” (Lukas 5:17)
 
Ek kan my egter nie indink dat hierdie grootse werk van Jesus sou kon groei sonder handuitgesoekte en toegewyde volgelinge saam met Hom op hierdie reis nie. 'n Reis wat nie geëindig het by die dissipels nie, maar wat steeds van krag tot krag beweeg by monde en leefstyl van geroepe gelowiges. En sal bly voortstu totdat Hy ons kom haal! Die vraag is net, is jy een van sy voorloop dissipels? Sonder jy jou soms af in eensame plekke om te bid?
 
Gebed: Onse Vader, dankie vir my wegruk uit die skemerland tot in die Lig. Mag my druppel-aandeel in u koninkrykswerk, waardig gemaak word deur u werking daarin. Amen.