Vers n dag - 26 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 14: ’N NUWE BEGIN... MET WYSE BESLUITE
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Op 1 Januarie 2012 het die 33ste Dakar-tydren in Suid-Amerika afgeskop. Vir vyftien dae lank het die meer as 500 spanne ’n afstand van 8,300km afgelê wat kronkel deur die woestyne van Argentinië, Chili en Peru. Hierdie roete word as ’n uithourit eerder as ’n tradisionele tydren beskou aangesien die terrein baie taaier is. Buiten vir gewone veldwerk wat die voertuie moet verrig, is daar bykomstige hindernisse insluitend die oorsteek van sandduine, modder, kameelgras en rotse.
Een ding waarsonder geen tydrenbestuurder suksesvol sal wees nie, is ’n goeie navigator langs hom. Die navigator se werk is om die bestuurder te waarsku teen hindernisse wat in die pad mag opduik, waar om te draai, hoe skerp die draai mag wees en ook om die motor se bande om te ruil indien dit pap is. Weens die geraas in die motor dra beide die navigator en die bestuurder oorfone en mikrofone sodat hulle effektief kan kommunikeer.
Ons kan met die tydrenbestuurder vergelyk word aangesien ons ook daagliks voor ’n keuse staan: Ons kan die dag met ’n navigator aanpak (deurdat ons God vra om ons deur sy Heilige Gees te lei). Óf ons kan sonder ’n navigator in die motor klim en hoop dat ons die sandduine, modder, kameelgras en rotse (in die vorm van uitdagings in die werkplek of by die huis) op ons eie sal kan kafdraf.
Luister gerus na hierdie drie beloftes as ons die Heilige Gees ons Navigator maak:
- Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”
- Psalm 143:10: “Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei.”
- Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”
Waarom nooi jy nie die Heilige Gees om van vandag af as jou Navigator in elke situasie op te tree nie? Hy sal jou nie net beskerm en lei nie, maar ook versterk wanneer dit voel asof jou bande begin pap word. En die beste van alles: Hy sal direk in jou ore praat. Al wat jy moet doen, is om sy stem te leer ken. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U ons daagliks deur u Heilige Gees lei. Help my asseblief om my ore gespits te hou sodat ek U stem sal herken en op die regte roete sal bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n foto van Giniel de Villiers, Suid-Afrikaanse Dakar-tydrenjaer op die Stories van Hoop bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.