Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 13: ’N NUWE BEGIN... MET NUWE MOED OM KANSE AAN TE GRYP

Deur Benescke Janse van Rensburg

Twee Amerikaanse professors, Gary Hamel en CK Prahalad het ’n eksperiment aangepak waar hulle vier ape in ’n hok geplaas het met ’n paal in die middel van die hok. Bo-aan die paal het ’n tros piesangs uit die dak gehang. 

Die vier ape was skaars in die hok, toe die eerste aap die piesangs gewaar en teen die paal begin uitklouter. Net toe hy egter sy hand na die piesangs uitsteek, is ’n emmer koue water op hom omgekeer. Die aap het skreeuend grond toe gespring. Die tweede aap het ook probeer en dieselfde oorgekom. Só ook die derde en die vierde aap. Eindelik het al vier ape moedeloos in die hoek van die kamer gaan sit terwyl die piesangs steeds uit die dak gehang het.

Die professors vervang toe een van die vier ape met ’n nuwe aap. Die nuweling was skaars in die hok toe hy die piesangs raaksien en teen die paal begin uitklim. Toe die ander drie ape sien wat die nuweling beoog, het hulle nader gespring om hom van die paal af te trek om hom van die gevaar te spaar. Na ’n paar probeerslae het die nuweling, hoewel hy steeds nie verstaan het wat aangaan nie, nie weer teen die paal probeer uitklim nie.

Een vir een is die oorspronklike vier ape met nuwes vervang. Elke keer wanneer die nuweling die piesang gesien het en teen die paal begin uitklouter, het die ander ape hom van die paal afgetrek. Kort voor lank was die hok gevul met vier ape wat nog nooit teen die paal uitgeklim het nie, maar dit ook nie uit vrees gewaag het nie – selfs al was die emmer koue water uit die hok verwyder.

As ons nie ons harte beskerm nie, kan ons soos die ape in die hok deur ons eie of ander se vrese en mislukkings gekondisioneer raak om passief te wag op ’n deurbraak in ons lewens – eerder as om God se leiding te vra en dit aktief na te streef. 

Luister egter weer na God se woorde in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”

Wat is vir jou hindernisse in jou lewe? Onthou, die sappige piesangs (in die vorm van wonderlike geleenthede en deurbrake vir 2012) hang reeds uit die dak. Dit is jou keuse of jy God gaan vra om jou deur sy Heilige Gees te lei om dit raak te sien – en te gaan pluk. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U vir my planne van voorspoed en nie teëspoed het nie. Help my om met in 2012 my oë oop te hou vir nuwe geleenthede wat U oor my pad wil bring. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 26 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 24 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.