Vers n dag - 24 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 12: ’N NUWE BEGIN... SONDER VREES 2
Deur Benescke Janse van Rensburg
365. Dít is hoeveel dae in ’n gewone jaar is. Ook hoeveel keer in die Bybel geskryf staan: “Moenie vrees nie” of “moenie bang wees nie”.
Sit jy vandag met vrees wat dreig om jou te oorweldig? Vrees jy dat jou huwelik in ’n egskeiding gaan eindig, dat jy by die werk afgelê gaan word of dat jy teen die einde van die maand nie jou rekening sal kan betaal nie? Luister dan weer na vyf van die 365 teksverse wat jou staande kan hou:
- Psalm 27:1: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”
- Jesaja 35:4: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier . . . God kom julle red!”
- Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
- Mattheus 10:31: “Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
- Johannes 14:27: “Vrede laat Ek (Jesus) vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
God is elke dag van die jaar by jou om jou deur enige krisis te dra. Hy het reeds oplossings vir uitdagings wat jy nog nie eens in die gesig gestaar het nie. Hy kan aan jou ’n deurbraak bewerkstellig uit enige “onmoontlike” situasie. Al wat jy moet doen: “Moenie bang wees nie, moenie vrees nie!” Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U nie vir my ’n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar van liefde, krag en selfbeheersing. Help my om te midde van elke vrees te onthou dat U die laaste sê het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.