Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 23 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 11: ’N NUWE BEGIN... AS JOU UNIEKE SELF

Deur Benescke Janse van Rensburg

Vir sommige jong kinders is die fassinasie met die fiktiewe superheld, Superman ’n seisoen waaruit hulle later groei. Dít was egter nie die geval vir die 35-jarige ontwerper, Herbert Chavez van die Filippyne nie. Sedert hy vir die eerste keer as kind na die film, Superman in die 1980’s gekyk het waarin die akteur Christopher Reeve die hoofrol vertolk, het Herbert begin om memorabilia van dié karakter te versamel.   

Sy liefde en fassinasie met Superman het egter tot ’n volgende vlak gegaan toe Herbert tien jaar gelede begin het om intense plastiese chirurgie te ondergaan (onder meer snywerk aan sy neus en ken en inspuitings om sy vel ’n ligter kleur te gee) om hom meer na Reeve te laat lyk. Hy het ook silikoon inspuitings gekry vir voller lippe en dui-inplanting om meer gespierd te lyk.

Herbert, wat self ’n rokontwerper in die dorpie, Calamba in die Filippyne is, het vir homself ’n Superman pak gemaak waarmee hy in die dorp rondstap. Die inwoners van die dorp sê dat hy hulle nie pla nie, maar eerder ’n goeie geleentheid bied waarin hulle hul kinders kan leer om nie soos iemand anders te probeer wees nie, maar liewer hul eie uniekheid uit te leef.

Hierdie storie klink dalk absurd, maar hoeveel keer het jy nie ook al (dalk onbewustelik) jouself met iemand anders vergelyk nie – wat mooier as jy is, meer geld as jy het, wie se kinders beter op skool of die sportgebied vaar as joune of wat meer gewild in die werksomgewing as jy is? En hoeveel keer het jy nie van jou eie uniekheid begin inboet deur te probeer om meer soos “daardie” persoon te wees nie?

Luister weer na die woorde in Psalm 139:16-18: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”

Wanneer ons ons eie uniekheid prysgee om meer soos iemand anders te probeer wees, stap ons weg van die unieke plan wat God spesifiek vir ons elkeen se lewens het. Voordat jy dus weer minderwaardig voel as jy jou mooi vriendin, ryk vriend, gewilde kollega of die vriende met die slim, sportiewe kinders raakloop, herinner jouself dat hulle nooit oor die potensiaal kan beskik wat God spesifiek vir jou gegee het om ’n verskil in die wêreld te maak nie.

Kom ons gryp dus elke kans vandag – en elke dag hierdie jaar – aan om God trots te maak deurdat ons die potensiaal wat Hy binne ons geplaas het ten volle uit te leef. Onthou, ’n tweedehandse weergawe van iemand anders was nog nooit so aantreklik soos ’n unieke weergawe van jouself! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my uniek geskape het. Help my om myself nie met ander te vergelyk en te mis wat U spesifiek vir my beplan het nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na foto’s van Herbert Chavez op die Stories van Hoop bladsy op die sosiale network, Fbook.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n motiveringspreker, radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 24 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 20 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.