Vers n dag - 20 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 10: ’N NUWE BEGIN... MET BONATUURLIKE GELOOF IN GOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: Baie dankie aan almal wat hulle getuienisse met my deel. Jy kan ook, by
Leser 1, Marinda: “Jare gelede het ek vir ’n maatskappy gewerk wat teëls verkoop. Een van ons kliënte het teëls vir sy hele huis van 100m2 gekoop en ’n ekstra 40m2 bestel wat hy later sou kom haal. Ek het sy bestelling in die sisteem ingevoer.
Toe die kliënt egter vier weke later terugkeer was sy teëls weg. Ons bestuurder het sonder my medewete die bestelling gekanselleer en die teëls aan iemand anders verkoop. Die kliënt was briesend. Sy huis se vertrekke loop aaneen en hy kon geen ander teëls gebruik om sy huis te voltooi nie. Hy het ons twee weke gegee om teëls in die hande te kry anders sou hy regstappe teen ons neem.
Om sake te vererger het geen verskaffers in Suid-Afrika of oorsee enige voorraad gehad nie. In my desperaatheid het ek voor God gekniel en Hom gevra om aan ons ’n deurbraak te bewerkstellig.
’n Week later bel ’n verskaffer ons met die nuus dat ’n bouer 50m2 van daardie spesifieke teëls waarna ons gesoek teruggebring het. Sy kliënt het skielik op ’n ander tipe teël besluit. God het bonatuurlik ingegryp en aan ons ’n deurbraak gebring. Alle eer kom Hom toe!”
Leser 2, Amanda: “Toe ek verlede Woensdag voor die huis stop en my Skotse terrier, Vicky nie saam met my Duitse Herdershond na die hek aangedraf kon nie, het ek onmiddellik geweet daar is iets fout. Ek woon alleen en my honde is vir my soos kinders. Ek het dadelik na haar begin soek. Een van ons bure het gesê dat hy haar vyf minute vantevore agter ’n fietsryer in die straat sien afhardloop het.
Deur my trane het ek gebid terwyl ons deur die buurt se strate stap en almal vra of hulle haar gesien het. Sy was egter skoonveld. Daardie aand voordat ek gaan slaap het ek die woorde in Jesaja 49:23 gelees: ‘Wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.’
Die volgende oggend by die werk het ek met dik behuilde oë ’n kollega raakgeloop wat my vroeër daardie week gevra het waar ek my Skotse terrier hondjie gekry het, aangesien van haar vriende ook een wil koop. Ek vertel haar toe dat Vicky weg is. My kollega het my verbaas vertel dat sy die vorige aand by daardie vriende van haar gaan eet het. Hulle woon in dieselfde woonbuurt as ek. Hulle het haar vertel van ’n Skottie wat vroeër die dag in die straat rondgehardloop het. Ons het dadelik gebel en uitgevind dat mense twee huise van haar vriende die Skottie ingeneem het. Ek en my kollega het dadelik in die motor gespring en na die huis gery en daar het ons vir Vicky gekry – springlewendig en gesond! Ek prys die Here vir sy bonatuurlike leiding in die saak.”
In Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” En in Mattheus 19:26 lees ons: “Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
Wat voel vandag vir jou soos ’n berg wat in jou pad lê? Gaan jy vir God vra om ook vir jou ’n deurbraak te bewerkstellig? Onthou, wie op Hom vertrou, word nooit teleurgestel nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in beheer is van elke situasie in ons lewens. Help my ook asseblief met (noem jou uitdaging). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto’s van Marinda en Amanda op die STORIES VAN HOOP bladsy op die sosiale netwerk, Fbook.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.