Vers n dag - 19 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 9: ’N NUWE BEGIN... MET NUWE PRIORITEITE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Wat is op hierdie oomblik vir jou die belangrikste in jou lewe? Die uitdagende projek by die werk, die krisis met jou kind by die skool, jou huwelik wat aan ’n draad hang, ’n doelwit wat jy vir jouself vir die jaar gestel het of kan jy eerlik sê dat God (en sy wil vir jou lewe) die belangrikste prioriteit in jou lewe is?
Luister na hierdie gesegde:
- “Soek eers die koninkryk van RYKDOM en jy sal jou oor elke rand en sent in die bank bekommer. Soek eers die koninkryk van GESONDHEID en jy sal jouself dood bekommer oor elke uitslag of pyn wat jy in jou lyf mag ervaar. Soek eers die koninkryk van POPULARITEIT en jy sal jouself te midde van elke konflik betrap. Maar, soek eers die koninkryk van GOD en jy sal dit vind: daarop kan jy staatmaak en hoef jy jou nie te bekommer nie.” – Onbekend
In Mattheus 6:33 het Jesus gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word…”
Kom ons herevalueer ons prioriteite en rig ons lewens in hierdie jaar só in dat die mense rondom ons kan getuig daarvan dat ons, ons Skepper (en wat vir Hom belangrik is) eerste in ons lewens plaas. Só kan ek jou verseker dat alles in jou lewe waaroor jy jou bekommer presies gaan uitwerk volgens God se plan. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U van elke behoefte en begeerte van my weet. Help my om nie in vrees te leef nie, maar om u koninkryk eerste in my lewe te stel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.